In ’n saketransaksie van digby R100 miljoen het een van die land se primêre landboumaatskappye onlangs verskeie familieplase by Ida in die Noordoos-Kaap aangeskaf.

Vir die eerste keer in bykans twee jaar kan mnr. John Keevy (74) en sy broer, Etienne (61), van Keevy Auctioneers bietjie agteroorsit. Die geld van die boere wie se plase hulle op Ida verkoop het, is in die bank.

Die aanloop tot een van die grootste grondtransaksies in die Oos-Kaap het in 2012 begin toe John by die Sussexstoetteler mnr. Trevor Stötter van Heimat op Ida gekuier en hulle oor grondwaardes in die Oos-Kaap gesels het.

“Van toe af het ons gereeld met mekaar geskakel en mettertyd ook met die bure gesels. Só is wedersydse vertroue opgebou wat gelei het tot ’n opdrag om die eiendom te bemark,” sê John.

“Soos die toeval dit wou hê, was mnr. Dave Osborne van Queenstown, onder meer eienaar van Number Two Piggeries, een van die grootste varkboerderye in die land, op die program Megaboere. Dit het ons op die gedagte gebring om hom te skakel wetende dat hy reeds grond in die distrik besit.

"Ons ken Dave, want ons het in 1992 ’n plaas in ’n ander distrik aan hom verkoop. Toe ek hom bel om te hoor of hy in die plase belang stel, was sy eerste woorde, ja, natuurlik stel hy belang.” Twee maande later, op 18 Julie 2016, het hulle mekaar ontmoet.

“Dave het sy eie waardeerders na die plase gestuur en ek het die boere voorberei op ’n moontlike aanbod. Hy het tydens ’n vergadering met die boere ’n mondelingse aanbod gemaak. Omdat Dave ’n man is wie se woord sy eer is, het die boere dit bloot op ’n handdruk aanvaar. ’n Skriftelike aanbod is eers later gemaak.”

John sê Dave is ’n mens wat nie opgehemel wil word nie. “Dit is ook die rede waarom hy geen personderhoude toestaan nie.”

Markverwante prys

Etienne sê die waarde van elke plaas is bereken volgens die hoeveelheid veld, droë lande en lande onder besproeiing. “Die uiteindelike prys was markverwant en het sowel die koper as verkopers tevrede gestel. Vir die koper bied dit skaalekonomie omdat die plase aangrensend is.”

Na verneem word, sal die totale belegging van die groep oor die volgende paar jaar sowat R700 miljoen beloop. Mnr. Jack Miles (42), woordvoerder en direkteur van Number Two Piggeries, wat sowat 25% van Suid-Afrika se varkvleis lewer, sê daar is nog baie welwillendheid in die land.

“Ja, baie mense is kwaad, maar daar is miljoene wat sake wil laat werk. Die sakemanne saam met wie ons werk, is almal optimisties. Hulle is mense wat die sakegeleenthede in die land raaksien.” Jack sê hulle beoog om mettertyd ’n 4 800-sog-eenheid op die plase op te rig, wat werk sal verskaf aan sestig mense, waaronder die bestuurders.

Honderde ander werkgeleenthede sal mettertyd geskep word. Die omgewingsimpakstudies wat nog gedoen moet word, sal minstens agt maande duur om af te handel. Daarna sal dit nog sowat twee jaar duur voordat die eerste varke geslag sal kan word.

Na gelang van hoe straf die winters gaan wees, oorweeg hulle die vestiging van melkerye. Daar sal ook ekstensief met beeste geboer word. Die groep het reeds begin om op groot skaal mielies op droëland en onder spilpunte te vestig. Hulle sal die mielies self gebruik of verkoop.

Hulle beoog om ’n graanmeule op te rig en van die omliggende distrikte mielies in te koop. Jack sê die huidige plaaswerkers sal almal deur die maatskappy in diens geneem word. “Vir ons maatskappy gaan dit alles oor mense.

Daarom is selfs die boere wie se plase gekoop is ook die geleentheid gebied om in hul woonhuise aan te bly. Van hulle gaan as raadgewers optree en hul seuns sal heeltyds vir ons werk,” sê Jack. Toe Jack gevra word hoe hy Dave, wat saam met sy pa, David (Miles), in 1977 die vennootskap gevorm het, as mens en sakeman sal opsom, het hy gesê Dave is ’n mens vir wie die glas altyd half vol en nie half leeg is nie.

“Hy het die kuns aangeleer om anderkant die horison te kyk. En as iets nie uitwerk nie, aanvaar hy dit gelate, leer uit sy foute en soek die volgende uitdaging.”

Volgens die Keevys is plaaspryse in die Oos-Kaap ondanks die droogte en politieke retoriek steeds bestendig. In die droogtegeteisterde dele het die mark egter sywaarts beweeg. In die distrikte waar buitensporige pryse betaal is toe skaars wild en kleurvariante nog hoogmode was, het die mark egter met sowat 20% teruggesak.

Mnr. Dave Osborne en sy metgesel, me. Antoinette Legrange.
Op soek na ’n winskoop. Daar was lewendige belangstelling in die gebruikte werktuie. Die omset van die veiling was sowat R11 miljoen.
Mnre. Mike en Craig Fitzhenry