’n Pas afgehandelde nasionale grondoudit bied volledige en feitelike inligting oor die besit en gebruik van grond deur mense van kleur in Suid-Afrika. Die oudit is spesifiek oor die tydperk van 1994 tot 2016, maar bied ook ’n historiese beskouing van grondbesit en -gebruik sedert die vroegste tye in Suid-Afrika.

Mnr. Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions (ADS), het dié omvattende projek die afgelope 18 maande uitgevoer met die samewerking van Landbouweekblad, Landbou.com en Agri SA, wat R1 miljoen bewillig het om die data van die aktekantoor (van 1994 tot 2010) te koop om die projek te voltooi. Van die belangrike bevindings is dat kommersiële landbougrond buiten die tuislande in die besit van wit boere sedert 1993 van 67% van die totale oppervlakte in Suid-Afrika afgeneem het tot 55% in 2016.

Die totale grondoppervlakte in Suid-Afrika is 122,5 miljoen ha. Daarvan verteenwoordig landbougrond, met potensiaal as basis, in 1994 altesame 97,03 miljoen ha. Wit boere het 82,5 miljoen ha (85,1%) daarvan besit en eienaars van kleur 14,5 miljoen ha, of 14,9%. Oor die verloop van 23 jaar tot in 2016 het landbougrond vir boerdery tot 93,25 miljoen ha afgeneem. Dit was hoofsaaklik weens die uitbreiding van stads- en dorpsgebiede, mynbou, natuurbewaring en bosbou. Wit kommersiële boere besit tans 73,3% van dié grond. Daarteenoor besit eienaars van kleur 26,7%.

In KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo is meer as 50% van die grondwaarde tans in mense van kleur se besit. Drie aspekte was veral van belang in die saamstel van die grond-oudit: Bevolkingsgroei, die migrasie van mense en die verspreiding van die potensiaal van landbougrond. Mense het hulself van die vroegste tyd af gevestig in dié dele van Suid-Afrika waar die potensiaal die hoogste was, sê Bornman. tabel 1 sit die eienaarskap van landbougrond deur mense van kleur per provinsie uiteen. In vier provinsies besit mense van kleur op ’n oppervlaktegrondslag tans meer as 40% van die landbougrond.

Dit is in die Oos-Kaap (48,3%), KwaZulu-Natal (73,5%), Limpopo (52%) en Noordwes (45,3%). In Mpumalanga en Gauteng is dié besitpersentasie net onder 40. Bereken teen 2016-waardes, besit mense van kleur 29,1% van die waarde van landbougrond, met waardes van meer as 40% in dieselfde vier provinsies wat hierbo genoem is. Gemeet aan landboupotensiaal (sien bygaande drakragkaart) besit mense van kleur tans 46,5% van die waarde van landbougrond in Suid-Afrika. Dié syfer verteenwoordig 26,7% van die totale beskikbare landbouhektare (sien tabel 1 ). Die Oos-Kaap beslaan 54,1%, KwaZulu-Natal 76,1%, Mpumalanga 44,7% en Limpopo 64,7%.

Tabel 1
Kaart

Vrye mark hervorm grond vinniger as staat

Tot dusver het die Regering grootliks grondhervorming bewerkstellig deur grond wat hy in 1994 besit het. In 1994 het die Regering grond uit tuislande, selfregerende state en trustgrond teen geen waarde (nul rand) oorgeneem. Altesame 4,1 miljoen ha is oorgedra, onder meer 3,6 miljoen ha aan 69 trusts in 243 transaksies.

Daarvan verteenwoordig die Ingonyama-trust in KwaZulu-Natal 3,2 miljoen ha. Meer as 400 000 ha is na ander trusts oorgedra. Sien ook tabel 2 . Op provinsiale en munisipale vlak is nog 2,6 miljoen ha verskuif, waarvan 1,1 miljoen ha hoofsaaklik tussen munisipaliteite en/of op provinsiale vlak verskuif het. Bornman sê dit is duidelik dat, met die uitsondering van grondaankope van 2,2 miljoen ha, die Regering grondtransformasie bewerkstellig het deur die hertoewysing van grond uit wat hy in 1994 besit het.

Die transaksies vir 1994 tot 2016 dui daarop dat altesame 8,9 miljoen ha of 12,9% van die totale hektare van geldelike waarde wat verhandel is, deur mense van kleur gekoop is teen R90,3 miljard. Dit is 22,5% van die totale waarde van grond wat oor die tydperk verhandel is. Daarvan het die Regering altesame 2,8 miljoen ha (31,9%) teen R20,5 miljard of 22,7% gekoop (dit sluit landbougrond en grond vir stedelike ontwikkeling in).


Tabel 2


Pasop, mense raak meer, landbougrond minder

Een van die belangrike berekeninge wat uit die grondoudit blyk, is die kleiner wordende oppervlakte vir landbougrond. In die pre-koloniale tydperk (1600’s) en met die koms van wit mense na Suid-Afrika, was die totale bevolking in Suid-Afrika ongeveer 700 000. Daar was ’n verhouding van 175 ha per persoon of 139 ha landbougrond per persoon, sê mnr. Johann Bornman.

Met die ontdekking van goud en diamante het die bevolking vanaf 2,5 miljoen tot 6,9 miljoen mense in 1921 gegroei. Daarvan was 23,4% verstedelik. Die verhouding was toe 17,7 ha per persoon en 14 ha landbougrond per persoon. Bornman sê die Suid-Afrikaanse bevolking is tans meer as 56 miljoen mense, wat meebring dat die digtheid van hektaar per persoon op 2,2:1 staan. Meer as 64% van die bevolking is verstedelik.

Die verhouding van landbougrond per persoon is tans 1,7:1. Indien die bevolking tot 66,9 miljoen in 2030 groei, neem dié verhouding af tot 1,8:1 (bereken volgens die algehele oppervlakte), terwyl 71,3% van die bevolking verstedelik sal wees. Die verhouding ha landbougrond/persoon sal waarskynlik op 1,4:1 vestig. Teen 2050, met ’n bevolking van 77,7 miljoen en verstedeliking van 75%, gaan landbougrond in hektaar per persoon tot 1,2:1 afneem. “Dit onderskryf die noodsaaklikheid dat daar met groot omsigtigheid omgegaan moet word oor die produktiewe aanwending van landbougrond om voedselsekerheid in stand te hou,” sê Bornman.

Die eerste bewoners en pre-koloniale tyd

Om perspektief aan die grondoudit te verleen, het mnr. Johann Bornman inligting oor die historiese okkupasie en migrasie van mense in Suid-Afrika sedert die vroegste tye ingesamel en verwerk. Dié inligting dui daarop dat slegs 1,3% tot 4,6% van die oppervlakte van die huidige Suid-Afrika in die baie vroeë tydperke bewoon is.

Die moderne mens het meer as 2 000 jaar gelede uit die noorde suidwaarts oor die Limpopo en deur die San- en Khoi-Khoi-gebiede beweeg. Sowat 300 n.C. het swart volke aan die ooste van die land oor die Limpopo getrek en ongeveer 400 n.C. het mense hulle in die huidige KwaZulu-Natal gevestig; in die jare 600 in die Oos-Kaap en tussen 1200 en 1650 op die Hoëveld en in die Vrystaat. In daardie stadium is sowat 6,2% van Suid-Afrika bewoon.

Pre-koloniale tydperk

In die pre-koloniale tydperk (1600’s) en met die koms van wit mense na Suid-Afrika, was die algehele bevolking sowat 700 000 (sien die kassie “Minder landbougrond, meer mense in SA”). Met die koms van wit mense was die Khoi-Khoi hoofsaaklik versprei van die Garieprivier aan die Weskus al met die kus langs tot by die Keirivier.

Die Khoi was deur verskeie stamme of groepe verteenwoordig. Die swart bevolking was gevestig in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, en in die binneland in bepaalde omgewings. Hulle is deur ’n groep stamme verteenwoordig. Met die koms van Jan van Riebeeck was die Khoi-Khoi-bevolking sowat 75 000 sterk, en gesentreer in die kusgebiede van die Wes- en Oos-Kaap. Drie pokke-epidemies in die 1700’s het die Khoikoi swaar getref. In 1795, met die eerste sensus ná die oorname van die Kaap deur Engeland, was die totale bevolking tussen 60 000 en 70 000, waarvan die Khoikoi met die sensus in 1820 altesame 25 975 getel het.

Om grondokkupasie van daardie tyd in perspektief te plaas: In 1795, onder die VOC-bewind, is 2 860 000 ha of 22,1% van die Wes-Kaap (2,3% van Suid-Afrika se oppervlakte) deur die wit bevolking opgeneem. In 1824 is ’n Britse nedersetting in KwaZulu-Natal gevestig op grond wat van die Zoeloe-koning Tsjaka verkry is. Die oppervlakte was 560 000 ha, of 6% van KwaZulu-Natal. Sowat 5 000 wit mense was daar gevestig.

Wie besit die grond? Agri SA hou ’n perskonferensie op 1 November in Centurion om die grondoudit (met die samewerking van Landbouweekblad en ADS) bekend te stel. Navrae: Thea Liebenberg, e-pos: thea@agrisa.co.za
Met ’n fyn kam deur ’n berg data

Om beslag te gee aan dié projek is ’n noukeurige kontroleproses gevolg om grondeienaarskap op grond van kleur en gebruik te bepaal, met ’n fokus op die tydsverloop van 1994 tot 2016. ’n Kwantitatiewe en kwalitatiewe benadering is gevolg om die 1994-basis eerstens daar te stel en korrek te bereken. In dié projek het mnr. Johann Bornman van geografiese datastelle van 1994 en 2016 gebruik gemaak, verskaf deur Geo Terra Image, ’n maatskappy wat geografiese ontledings doen, asook data en sagteware van die Landmeter-generaal. Tien mense, van wie agt datavaslegging doen, werk aan die projek.

Bornman sê dié mense, ’n toegewyde, hardwerkende span, bly almal in verskillende provinsies en is baie spesifiek gekies omdat hulle noukeurig werk. “En, interessant genoeg, die span het mekaar nog nooit oor die twee jaar ontmoet nie.” Vir die kwantitatiewe basis is hoofsaaklik inligting gebruik uit verhandelde transaksies van die aktekantore, soos verskaf deur Windeed, asook data van die Departement van Statistiek en die Departement van Landbou. ’n Funksionele platform is op die internet ontwikkel om die verpakte data te huisves en dit word deurlopend bygehou. Besoek Landbou.com of land.agrids.co.za vir meer inligting hieroor.

Vir die kwantitatiewe verpakking van transaksies is ’n stapsgewyse proses gevolg om die inligting per distrik te koppel aan die nuwe geografiese grense van distrikte. (Die inligting oor die transaksies per distrik, wat van die aktekantoor ontvang is, word gekoppel aan aktekantore en heelwat val buite huidige provinsiale grense.

Bornman sê dit het kophou geverg om die verskuiwings reg toe te wys.) Daarna is ’n proses gevolg om transaksies groter as 10 ha, en teen ’n waarde van groter as R2, in die databasis in te voer, waarna transaksielyne skoongemaak is in die geval van meer as een koper of verkoper per transaksie of waar drie of selfs vier titelaktes aan een transaksie gekoppel is. Hierna is die databasis deurgewerk vir foute en herhaling van transaksies en skoongemaak.

Transaksies is in die databasis ingetrek op grond van hektare, waarde, en ’n berekening van rand per hektaar, per distrik en per provinsie. Profiele is toegedeel ten opsigte van die gebruik en okkupasie en of eienaarskap deur mense van kleur, verdeel in agribesigheid, kommersiële landbou, ander kommersiële gebruike, mynbou, parke en bosbou. In die geval van kleurtransaksies is onderskeid getref vir regeringsaankope van grond vir die landbou, dorps- en stedelike ontwikkeling, private transaksies van kleur van landbougrond en private transaksies van kleur in die geval van grondaankope, nie noodwendig vir die landbou.

’n Tweede databasis is ook geskep om transaksies van groter as 10 ha, maar teen waardes kleiner of gelyk aan R2, op te neem. Dit werk op dieselfde basis, soos beskryf, om voorsiening te maak vir grondtransakies waar slegs oordragte plaasgevind het, sonder ’n transaksiewaarde. (Die Regering se grondoordragte val hoofsaaklik onder laasgenoemde.) In die proses is 453 967 transaksielyne gehanteer, waarvan 179 068 transaksies vir die eerste groep en 42 542 vir die tweede groep toegedeel is.

Altesame 221 610 transaksies is individueel ontleed en in die databasis opgeneem. Dié inligting sluit uit eienaarskap van kleur in maatskappye, vennootskappe, BK’s en SEB-projekte, met die uitsondering waar eienaarskap van kleur wel vasgestel kon word. In die berekening op grond van eienaarskap van grondwaarde en -potensiaal is inligting van 340 distrikte gebruik, en historiese grondwaarde-berekeninge van 99 distrikte en waardes is teen 2016-pryse bereken.

Die trek noorde toe

Met die eerste Groot Trek het 6 000 mense noordwaarts getrek, wat 20% van die Oos-Kaapse wit bevolking en 10% van die Wes-Kaap verteenwoordig het. Dit is opgevolg met 2 300 huishoudings van wie 15 000 wit mense en 5 000 mense van kleur was. Hierdie trekke het grootliks dieselfde roetes gevolg as vroeëre wit reisigers/verkenners na die binneland. Hulle het in aanraking gekom met die binnelandse bevolkings, gevestig op hoëpotensiaalgrond, waar sowel wit as swart grootliks afhanklik van die natuur was vir hul bestaan.

Om perspektief te gee oor grondokkupasie met die koms van die wit bevolking kan gelet word op die inhoud van tabel 3 . Dit dui daarop dat mense van kleur in daardie stadium na raming 41,1% van die totale oppervlakte van Suid-Afrika geokkupeer het. Op waardebasis verteenwoordig dit 49% van die oppervlakte van Suid-Afrika. Bronne: ADS, Landmeter-generaal

NAVRAE: Mnr. Johann Bornman, e-pos: jchb@mweb.co.za