Landbouers se rol om voedselsekerheid te verseker, neem elke dag wêreldwyd toe. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum gaan die wêreld se bevolking teen 2050 sowat 9,8 miljard mense beloop. Dit beteken vandag se skoolkinders gaan teen hul 50ste jaar of jonger 70% meer voedsel moet produseer as wat hul pa’s gedoen het om in die groeiende behoeftes te voorsien.

Is daar ’n toekoms in die landbou? Ja. Moet ’n mens jouself blind staar teen hedendaagse politiekery en persoonlike landboudrome versaak? Nee. Lê klem op voedselproduksie en hou tred met tegnologiese ontwikkelings. Jou nageslag sal dankbaar wees. Boere se gemiddelde ouderdom is 62 (volgens statistiek oor die georganiseerde landbou).

Die Suid-Afrikaanse bevolking se gemiddelde lewensverwagting is 57 jaar en die gemiddelde ouderdom is 26 jaar. En iemand moet die volgende geslag se voedsel produseer!

TOEKOMSBLIK

Voedselproduksie gaan in ’n onbekende omgewing plaasvind wat anders gaan lyk as vandag. Ongeag wat dit gaan wees, maak seker jy is deel van die vierde industriële revolusie in die landbou en hou tred met tegnologie. Tans kan die wêreld enige van die volgende rigtings inslaan.

Oorlewing van die rykstes. In ’n wêreld waar landbouhulpbronne, soos grond en water, sonder perke intensief maar ondoeltreffend benut (en uitgeput) kan word, en waar beperkte marktoegang tot wêreldmarkte is, kan dit laer ekonomiese groei veroorsaak. Invoertariewe en ander handelsbeperkings word byvoorbeeld toenemend tussen lande, soos Amerika en China, asook die Europese Unie, ingestel. Die “verskil” tussen ryk en arm sal in dié omstandighede toeneem. Welvarende mense sal net nóg welvarender word.

Ongekontroleerde verbruik. Indien marktoegang wêreldwyd verbeter en hulpbronne intensief sonder perke benut kan word weens hoë vlakke van wêreldwye ekonomiese groei, gaan die omgewing kwaai benadeel word. Die prys wat die omgewing sal moet betaal, gaan hoog wees.

Volhoubaarheid. In dié geval is marktoegang wêreldwyd goed en nie beperkend op handel nie. Hulpbronne, soos grond en water, word doeltreffend benut en daar is goeie internasionale samewerking om voedselproduksie te optimaliseer.

Klem op plaaslike markte. Hulpbronne, soos grond en water, kan doeltreffend benut word om in die plaaslike mark se behoeftes te voorsien. Internasionale marktoegang is egter beperk. Hulpbronryke lande gaan op hul eie markbehoeftes toegespits wees. Lande wat toenemend weens swak beleidsrigtings van invoer afhanklik gaan wees, sal ál meer deur hongersnoodtoestande gekenmerk word.

KOSPRODUKSIE

Te midde van die uitdagings gaan Regerings wêreldwyd daarna streef om stelsels vir voedselproduksie te verbeter. Namate bevolkingsgroei toeneem, gaan die insluiting van kleinboere, vroue en die jeug om uit die landbou voordeel te trek, belangriker word en in beleid vergestalt word.

Die landbou se impak op die omgewing moet geminimaliseer word, terwyl voldoende hoeveelhede voedsame en veilige voedsel geproduseer word. Die gevolge van die onlangse uitbreking van listeriose in die vleisverwerkingsbedryf is ’n sprekende voorbeeld van die belangrikheid van veilige voedselproduksie.

DEMOGRAFIE

Die huidige geslag landbouers sal binne die volgende 12 jaar voedsel moet voorsien aan ’n wêreldbevolking van 8,5 miljard mense. Middelklasverbruikers neem toe van 1,8 miljard mense in 2009 tot 4,9 miljard mense teen 2030. Die vraag na gehalte-voedsel met ’n hoër proteïen-inhoud gaan toeneem.

Onthou dat 500 miljoen kleinboere wêreldwyd 80% van die voedsel in ontwikkelende dele verbou; vandaar die klem op die ontwikkeling van kleinboere. Verder ly 800 miljoen mense honger, 2 miljard ervaar voedingstekorte en 2 miljard is vetsugtig. Nie-oordraagbare siektes neem jaarliks toe weens ongesonde eetpatrone en benadeel ’n land se produktiwiteit en ekonomiese groei.

Kosproduksie neem wêreldwyd 70% van die wêreld se waterbehoefte op. Gevolglik gaan die vraag na water teen 2030 met 40% toeneem. Maak seker jou waterregte is in orde. Ondanks 170 nasies se pogings om die styging in uitlaatgasse te verlaag, kan die wêreldtemperatuur tot 2050 met enigiets van 2,7 °C tot 3,7 °C styg.

Voedselpryse sal dus teen 2050 wêreldwyd 84% hoër wees as nou. Neigings dui daarop dat regerings ál meer proteksionistiese handelsmaatreëls oorweeg om hul plaaslike ekonomieë teen wêreldwye mededinging te beskerm.

REVOLUSIE

Die vierde industriële revolusie in die landbou word onder meer gekenmerk deur navorsing en tegnologiese ontwikkeling in bio-innovasie, die vermoë om DNS te verander, robotika, groot data, kunsmatige intelligensie en masjienleer. Gaan Google dié begrippe en leer meer daaroor.

Onthou dat 90% van die wêreld se data oor die laaste twee jaar ontwikkel is. Dit is buitengewoon. Indien ons in Suid-Afrika erns wil maak en geleenthede wil skep vir diegene wat ’n loopbaan in die landbou wil volg, moet ons op tegnologiese ontwikkelings klem lê. Om teen 2050 in die wêreld se groeiende voedselbehoeftes te voorsien moet kinders wat nou op die skoolbanke sit, 70% meer voedsel produseer met dieselfde hulpbronne as wat jy gehad het.

Tegnologie gaan hulle daartoe in staat stel – nie grond nie. Maak dus seker jy weet watter tegnologie reeds tot boere se beskikking is.

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.

Bronne: Wêreld- Ekonomiese Forum, Deloitte en Absa-Agribesigheid