Grondhervorming is al jare lank deel van Suid-Afrika se politieke landskap. Ná pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede het die Parlement onder aanvoering van die EFF ’n komitee aangestel om te kyk na grondonteiening sonder vergoeding. Dít veroorsaak baie onsekerheid. Van al die grondeise wat tot al ingedien is, wou die meeste partye liefs finansiële vergoeding as die grond self hê.

Of die voorgestelde nuwe beleid dus ’n oplossing vir die werklike behoefte gaan bied, is moeilik om te sê. Die oorspronklike tydperk om grondeise in te dien het in 1998 verstryk. In dié tyd is 80 000 eise ontvang; 20 jaar later was 6 000 hiervan steeds nie afgehandel nie.

Aangesien die ANC se berekeninge gewys het 3,5 miljoen hektaar tot 7,5 miljoen hektaar van swart mense se grond is afgevat, het die party in 2014 weer die grondeiseproses oopgestel. Dié wet is in 2016 ongrondwetlik verklaar omdat die korrekte prosesse nie gevolg is nie. Die eise wat in dié twee jaar ingedien is, is egter steeds geldig.

Op die ANC se 54ste nasionale konferensie is besluit die party gaan hom beywer vir grondonteiening sonder vergoeding. Ná die Staatsrede het die EFF ’n mosie ingedien waarvolgens ’n ad hoc-komitee vir die hersiening van die Grondwet op die been gebring word om artikel 25 te hersien.

Interessant genoeg laat artikel 25(3) eintlik reeds onteiening sonder vergoeding toe – indien die Regering kan bewys dit is regverdig en billik om dit in ’n spesifieke geval te doen. Dié hersiening van artikel 25 gaan egter baie moeiliker wees as wat baie mense dink. Die EFF wil dit glo net op plaasgrond toepas, maar dit skep probleme met diskriminasie.

Selfs as jy billike gronde sou kon kry om die onteiening net tot plaasgrond te beperk, sal dit moeilik wees om billike riglyne daar te stel om een stuk grond bo ’n ander te onteien. Voorheen is al dikwels verwys na van dié riglyne wat oorweeg sal word.

In 2015 se Staatsrede is byvoorbeeld gesê buitelanders mag in die toekoms nie landbougrond in Suid-Afrika besit nie en dat Suid-Afrikaners beperk sou word tot plase van 12 000 ha elk. In die onlangse Staatsrede is gesê geen grondonteiening mag voedselsekerheid bedreig nie.

Niemand weet wat met dié wetgewing gaan gebeur nie. Dit is onmoontlik om te bepaal watter eiendom die meeste geraak gaan word. Onthou ook die impak wat sulke onteiening kan hê op die banke wat verbande op die onteiende grond het, hoewel daar nog baie onsekerheid is oor wat gaan gebeur.

oorhaastige besluite

Die belangrikste is om nie nou enige benoude spronge te maak nie; veral nie besluite wat gedryf word deur vrees pleks van feite nie. Baie adviseurs raai boere aan om hul eiendomme ten duurste na maatskappye of trusts oor te dra. Nes by enige beleggingsbesluit is dit belangrik om nie oorhaastige of swak deurdagte besluite te neem nie.

Ons weet nie of dit enige voordele inhou as onteiening plaasvind nie, maar ons weet dié strukture kan reeds nadelige belastinggevolge hê. Moet dus nie jou strukture verander net omdat dit in die toekoms dalk beter vir grondonteiening kan wees nie. Tree uiters versigtig op as strukture vir ander doeleindes, soos erfopvolging, verander word.

As ’n minimum voorvereiste moet die struktuur só aanpasbaar wees dat dit verander kan word as wetgewing later laat blyk die gekose struktuur hou ernstige nadelige gevolge in. Moenie nou handdoek ingooi en jou boerdery verkoop nie, veral nie as so ’n besluit bloot uit vrees gedryf word nie. Suid-Afrika staan weer op die punt van ’n goeie dekade van groei.

Nou het ons suksesvolle boere nodig om die ekonomie te help bou. Dalk is dit die beste beskerming wat boere vir die toekoms kan inbou. Hoe doeltreffender boere ál hul grond benut, hoe belangriker is hulle vir voedselsekerheid in Suid-Afrika. Voedselsekerheid is ’n belangrike oorweging en volgens huidige aanduidings nie ’n area waarmee die Regering kanse wil waag nie.

Hou dus aan beplan en boer, want dit is juis die waarde wat ons toevoeg wat in die toekoms tot ons voordeel sal strek.

Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG. Hy is ook te sien op die TV-program Landbouweekliks op VIA (kanaal 147 op DStv) Dinsdae om 19:30.

NAVRAE: E-pos: Ronald.King@psg.co.za