Onteiening vind reeds sonder vergoeding plaas in gebiede waar minerale ontgin word. Dit word moontlik gemaak deur die Wet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumhulpbronne (MPRDA), sê dr. Aninka Claassens, hoof van die navorsingsentrum vir grond en verantwoordbaarheid aan die Universiteit van Kaapstad.

“Waar mynregte ingevolge dié wet aan ’n mynmaatskappy toegestaan word, onteien dit tegelykertyd die oppervlakregte van mense wat daar woon.”

Aninka was een van die sprekers by die bestuurskool aan die Universiteit Stellenbosch se paneelbespreking oor grond in Kaapstad. Noudat mynbedrywighede ál meer na voormalige tuislande verskuif word, is diegene wie se grond onteien word, mense wat baie swaargekry het onder apartheid en gedwonge verskuiwings.

Mense wat daaroor ontevrede is, word na die Departement van Minerale Hulpbronne verwys – dieselfde departement wat mynlisensies uitreik sonder om mense te raadpleeg, sê Aninka. Die departement verwys mense na artikel 54 in die MPRDA ingevolge waarvan ’n bemiddelaar aangestel kan word om te besluit watter voordele die mense moet kry.

Aninka sê daar was nog nooit bemiddeling ingevolge artikel 54 nie omdat niemand dié departement vertrou nie. Ondanks groot ontevredenheid oor hoe mynmaatskappye mense se grond, water, grafte, weiveld en hul hele lewenswyse vernietig, het die departement ook nog nie sodanige arbitrasie aan die gang gesit nie.

Ironies genoeg, dié nie-toepassing van artikel 54 kan mynmaatskappye in staat stel om in die hof te sê gemeenskappe kan nie hof toe gaan voordat hulle die remedie in die wet gebruik het nie.

HOOFMANNE EN WETTE

Mense in landelike gebiede se grootste probleem is dat die departement mynmaatskappye aangeraai het om die hoofmanne as die verteenwoordigers van die mense te beskou. “Die probleem is dat tradisionele leiers nié die mag het om mense se grondregte te bind en die transaksies te onderteken nie.”

Die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is die nominale eienaar van die meeste kommunale grond, maar die Wet op die Tussentydse Beskerming van Informele Grondregte (IPILRA) verbied die minister om dokumente te onderteken wat die informele grondregte van mense sonder hul toestemming verander.

“Die vorige Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het sy verantwoordelikhede ingetrek en dit aan die tradisionele leiers gegee. Nou raak mynmaatskappye en die Regering ’n bietjie angstig oor die transaksies, veral omdat die sake na die Grondwethof op pad is.”

Volgens Aninka gaan dit moeilik wees om te bewys tradisionele leiers was by magte om dit te doen, want hul rade is nie wettig ingevolge die Wet op die Regeringsraamwerk van 2003 nie. Die wet laat toe dat tradisionele rade, die ou Bantoe-owerhede, wettig bly op voorwaarde dat 40% van hul lede verkies word en ’n derde vroue is.

Aangesien dit nie gebeur nie, beteken dit dat nie een van die tradisionele rade in Limpopo en Mpumalanga wettig is nie. Volgens haar is die Regering besig om dié kwesbare transaksies te probeer beskerm deur die regsgevolge van die probleem te verwyder.

Hy probeer dit doen deur die raamwerkwetsontwerp op tradisionele leierskap en regering en die wetsontwerp op tradisionele en KhoiSan-leierskap wat deur die Nasionale Vergadering aanvaar is en nou voor die Nasionale Raad van Provinsies dien.

“Met die eerste wetsontwerp probeer die Regering om bogenoemde met ’n lagie wettigheid te verf. Die lagie is baie dun, want jy kan nie goed wat op ’n tyd onwettig was, terugwerkend wettig maak nie.”

Deur die tweede wetsontwerp probeer die Regering die saak regstel deur aan tradisionele leiers ’n mag te gee wat hulle nooit gehad het nie. “Die bestaan van die wetsontwerp bewys dat die leiers nooit die mag gehad het nie.”

Aninka was lid van die hoëvlakpaneel wat onlangs onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe belangrike wetgewing, veral oor grondhervorming, ondersoek het. Sy sê bykans 10 000 mense uit die landelike gebiede het voor die paneel getuig.

“Mense het groot ontnugtering en woede uitgespreek oor wat besig is om met hulle te gebeur: Die weiering van eiendomsreg, die miskenning van basiese burgerregte en die feit dat tradisionele leiers nie verslag doen aan die mense nie.” Die paneel het aanbeveel dat die wetsontwerpe teruggehou word tot daar vasgestel is hoe die Regering en mynmaatskappye beoog om mense vir hul verliese te vergoed.

Dat die wetsontwerpe voortgaan, wys dat Suid-Afrika terugval op beweegredes uit die koloniale tydperk om mense eiendomsreg te weier, soos om nie gewoontereg as eiendomsreg te beskou nie en Suid-Afrikaners in die landelike gebiede te beskou as onderdane van stamhoofde wat deur koloniale grense op hulle afgedwing word.

Aninka het gevra hoekom minerale nie ontgin kan word sonder dat arm, landelike mense se regte benadeel word nie. “As dit nie anders kan nie, dan moet mynmaatskappye nie bekommerd wees oor wat die EFF oor onteiening sonder vergoeding sê nie.” Sy sê mynmaatskappye moet lei deur ’n voorbeeld te stel en nie deur mense van regte te ontneem net omdat regeringsbeleid dit moontlik maak nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.