Olivia Energie help reeds sedert 2009 boere landwyd met hul sonkragbehoeftes, soos sonpompe en sonkraginstallasies vir huishoudelike en kommersiële gebruik. Waar netwerkgekoppelde sonkragstelsels in die verlede gewild onder boere was, beleef die maatskappy tans ’n groter vraag na stelsels wat onafhanklik van die netwerk kan funksioneer.

Al hoe meer boere skakel na sonkrag oor omdat hulle kan somme maak. Die belegging in sonkrag behels ’n groot kapitaaluitleg, maar bring dan ’n besparing op lang termyn teweeg. Die eindresultaat is baie goedkoper en betroubare krag oor die volgende 20 jaar. ’n

Belegging in ’n sonkragstelsel wat energie in ’n litiumbatterybank kan opberg en onafhanklik van die kragnetwerk funksioneer, word gekenmerk deur:

  • ’n hoë huidige netto waarde;
  • ’n hoë interne opbrengskoers;
  • ’n afbetaalperiode van sowat vyf jaar.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens laat boere ook toe om, onderworpe aan sekere vereistes, die volle kapitaaluitleg in die eerste jaar as ’n uitgawe te eis. Dit het ’n positiewe uitwerking op die boerdery se kontantvloei. Baie boere verkies om eerder ’n sonkragstelsel te finansier as om hul spaargeld te gebruik.

Olivia Energie kan ’n sonkragstelsel ontwerp volgens ’n boer se behoeftes. FOTO’S: OLIVIA ENERGIE
Mnre. Philip Olivier en Eduan de Necker van Olivia Energie.

Finansiering geskied gewoonlik oor ’n tydperk van vyf jaar deur die boer se eie bank. Olivia Energie kan die boer help met ’n alternatiewe kredietlyn by private finansierders. Hierdie finansiering geskied sonder dat hulle sekuriteit hoef te verskaf, maar rentekoerse is effens hoër as by handelsbanke.

Na gelang van die kapasiteit van die batterybank en met inagneming van bogenoemde kapitaalafskrywing kan die kontantvloei vanaf die eerste jaar positief wees. Die paaiement kan dus vanaf die eerste jaar vergelykbaar met of kleiner as die kragrekening wees.  N

NAVRAE: E-pos: info@oliviaenergy.co.za; web: www.oliviaenergy.co.za

Hoe werk die proses?

Ontwerp en kwotasie

Om die stelsel akkuraat te ontwerp, word sekere inligting oor die boerdery se energieverbruik benodig, waaronder die maksimum kragverbruik (kW), asook die energieverbruik (kWh) gedurende die dag en nag.

Daar is verskillende maniere hoe hierdie inligting bekom kan word en Olivia Energie sal die boer daarmee help. Nadat die stelsel volgens die boerdery se vereistes ontwerp is, word ’n kwotasie uitgereik vir die verskaffing en installasie van die stelsel.

Aanvaarding van kwotasie As die kwotasie aanvaar word, is ’n deposito betaalbaar voordat begin word om die stelsel te bou.

Werkswinkel-integrasie

Die stelsel word op ’n bedradingsbord gebou waar alle elektroniese toerusting geïntegreer en getoets word. Gelykstroom- en wisselstroombeveiliging geskied volgens NRS 097-standaarde. Daarna is die stelsel gereed om na die kliënt vervoer te word.

Installasie en toetsing

Installasie geskied gewoonlik met die samewerking van ’n plaaslike elektriese kontrakteur, verkieslik die kontrakteur wat normaalweg onderhoud aan die plaas se elektriese netwerk doen.

In baie gevalle stel die boer ook belang om betrokke te wees by sekere aspekte van die installasie, byvoorbeeld die montering van die sonpanele, om sodoende koste te bespaar. Monitering en bystand op lang termyn Olivia Energie moniteer die stelsel aanlyn as internettoegang beskikbaar is.

As probleme opduik, verskaf Olivia Energie tegniese ondersteuning aan die installeerder. Die maatskappy het oor die afgelope tien jaar ondervind dat dit die doeltreffendste manier is om bystand op afgeleë plase te verleen.