Sy eerste treë in die daggabedryf was in die vroeë 1990’s in Amerika, waar mnr. Jack Hererer, die vader van die hennep-beweging in Amerika, dié flukse boerseun raakgesien en onder sy vlerk geneem het.

Deesdae is mnr. Cornél van der Watt, beter bekend as White Lion, ’n internasionaal gerekende kenner van die daggaplant en sy gebruike. Hy is ’n chemiese ingenieur van nering en was al betrokke by navorsing en ontwikkeling, die ontwerp van ekstraksie-apparate, gemeenskapsopheffingsprojekte, saadkweking en produksie.

“Ja, mense oordeel my, want ek het dreadlocks, maar ek is Afrikaans en ek kom van ’n boere-agtergrond af,” vertel Van der Watt, uitvoerende hoof van White Lion Holdings en Complete Cannabis Solutions (CCS) op Stellenbosch. Tydens sy omswerwinge in Amerika, Kanada en Lesotho het hy ’n groot bydrae gelewer om formele, wettige daggabedrywe tot stand te bring. Nou staan hy daggaboere by om suksesvolle, lewensvatbare projekte in Suid-Afrika te vestig.

Die daggabedryf in Suid-Afrika het vlamgevat, maar dit is duur en moeilik om die bedryf te betree. Deur gebruik te maak van kundiges wat goeie riglyne gee, kan heelwat van die sowat 86 risiko’s verbonde aan daggaproduksie gesystap word. Daggaboerderye is hoofsaaklik klein en intensief. Die medisinale daggabedryf is nog klein vergeleke met die (onwettige) mark vir ontspanningsgebruik.

Suid-Afrika se klimaat, goedkoop produksiemiddele en die swak rand beteken plaaslike boere kan dagga mededingend kweek.

Hoe lyk die mark?

Sedert plaaslike wetgewing verander is om mense toe te laat om dagga vir mediese doeleindes te gebruik, het boere groot beleggingsgeleenthede raakgesien. Pryse ry wipplank, maar op ’n goeie dag skiet dit op tot R70 000 tot R80 000 per kilogram.

Op ’n gemiddelde dag is die prys sowat R40 000/kg, en op ’n slegte dag kan dit tot R20 000/kg daal. Vraag en aanbod is bepalend, maar gehalte is die grootste faktor, sê Van der Watt.

Die (tans onwettige) gebruik vir ontspanning maak steeds 80% van die totale mark uit. Die plaaslike mark vir wettige medisinale dagga is sowat R50 miljoen per maand werd.

dagga
Slegs die vroulike plante word geoes en gebruik.

Bly weg van boerebedrieërs 

“Daar is ongelukkig baie boerebedrieërs en kwaksalwers, en mense word ingeloop. Moenie ’n fout maak nie – baie mense gaan geld verloor in die bedryf, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” sê hy.

“Dit gaan nie net daaroor om ’n lisensie te kry nie. Wat dan? Waar kry jy jou plantmateriaal? Jou mark? Boere moet opgelei word om met die gewas te boer.” 

Klop aan by die kenner

Van der Watt is die enigste mens in Suid-Afrika wat tot dusver vyf kommersiële daggaboere in die land aan die gang kon kry. Uit die vyftien bestaande lisensies in Suid-Afrika is hy by agt betrokke.

Hy help tans van aartappel- tot mielie- en wingerdboere in Limpopo, KwaZulu-Natal, Noordwes, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Oklahoma in Amerika om projekte te vestig. CCS bied ’n eenstop-oplossing vir alle daggaverwante behoeftes.

Wanneer ’n boer CCS om hulp nader om die daggabedryf te betree, word ’n aanvanklike diensooreenkoms opgestel. Ná ’n deeglike ondersoek van die spesifieke omstandighede word ’n gedetailleerde finansiële model vir die projek ontwikkel.

“Ons werk nou saam met SAHPRA (die Suid-Afrikaanse gesagsliggaam vir gesondheidsprodukte), wat die aansoeke vir daggaproduksie behartig. SAHPRA het ’n lys met kriteria waaraan jy moet voldoen voordat jy ’n lisensie kry.

dagga
Alle daggaproduksie moet binnenshuis geskied. Dit is intensiewe boerdery wat op klein skaal winsgewend bedryf kan word. FOTO’S: VERSKAF

“Dít maak dit tans moeilik om die bedryf in Suid-Afrika te betree, want dit verg ’n belegging van sowat R20 miljoen, veral om aan die gehaltevereistes te voldoen,” sê Van der Watt. Die lisensie vereis onder meer dat dagga in ’n beheerde, bedekte omgewing verbou moet word.

Wanneer die lisensie toegestaan word, sluit CCS ’n tweede, buigsamer diensooreenkoms met die boer. “Dan leer ons die standaardbedryfsprosedures aan die boer en sy werknemers, hoe om dit te handhaaf, asook hoe om aan die gehalteversekering te voldoen.

“Dit gaan hand aan hand met goeie landboukundige oespraktyke,” sê Van der Watt. “Hoewel ons net die blomme oes, vereis die regulasies dat jy moet boekhou van elke liewe blaartjie en stingel. Van die meesterkwekers in my span word vir ’n tydperk aan jou plaas toegewys. Hulle bestuur dit totdat jy voel jy weet genoeg,” sê hy.

“Dit is nie konvensionele boerdery nie, maar klein, intensiewe boerderye met groot opbrengste. Ons bloudruk begin by 900 m2 wat elke 12 dae sowat 281 kg kan lewer.”

Navrae:
Mnr. Cornél van der Watt, 064 684 6211; e-pos: info@whitelionholdings.co.za; web: www.completecannabissolutions.com