Die Ligbron OBBG Weeg en Wen-Mielieprojek is op 8 Oktober 2020 deur mnr. Erhard Prinsloo, ’n ouerlid van die beheerliggaam, begin. Min het die organiseerders besef dat die uitkoms hul wildste drome sou oortref.

Verskeie boere van die omgewing het deelgeneem aan hierdie suksesvolle projek en die Ligbron OBBG spreek graag sy opregte dank uit aan die Ermelo-gemeenskap vir sy getroue ondersteuning.

Die gala-aand is by die stylvolle Kralinbergh Estate gehou. Die gaskunstenaar, Nadine Blom, en Andrew Roos, Ermelo se eie musiekkenner, het vermaak en musiek aan die aand verleen.

Goeie oes

Die boere was dit eens dat hierdie seisoen ’n buitengewoon hoë opbrengs gelewer het. Onder die professionele leiding van mnre. Neels van der Schyff en Carl Jacobsz van Omnia is die wenners bepaal en aangekondig. Dit het ’n antwoord op die jaar se wonder en bespiegel gebring – daar is geweeg . . . en wie het gewen?

Mnr. Johan van Niekerk het die derde plek gewen.
Mnr. Fanus Stapelberg het die vierde plek behaal.

Wenners

Die vier boere met die hoogste gemiddelde opbrengs vir die hektare is beloon. Die eerste en tweede plek is losgeboer deur mnre. Christiaan Paul en Ruan Paul van KRC Farming. Hulle ontvang gesamentlik prysgeld ter waarde van R250 000 (eerste plek R150 000, en tweede plek R100 000), geskenk deur Ligbron OBBG.

Mnr. Johan van Niekerk, in die derde plek, ontvang ’n grassnyer geborg deur Agri Benodighede. Mnr. Fanus Stapelberg, wat vierde was, ontvang Omnia-presisieboerderyontledings ter waarde van R40 000. Elkeen van die ander deelnemers het ’n sakkie Dekalb Bayer-saad ontvang. 

Die gehalte en sukses van so ’n wenprojek is nie haalbaar sonder die insette van getroue borge nie. Die Ligbron OBBG bedank graag die volgende borge: ETG, Pannar, Oosvaal Landbou, MBFi, Villa, Omnia, Bayer, FPS Bulk en Agri Benodighede.