Danksy die Brahman se voortreflike eienskappe, soos sy gehardheid, aanpasbaarheid en basterkrag, is hy ’n gewilde keuse onder telers. Nou word genomika aangewend om die Brahman op die pad te plaas om die volledige bees te word, sê mnr. Sydney Hunt, voorsitter van die Brahmanbeestelers genootskap van Suid-Afrika. Die Vleisbeesgenomikaprojek (VGP) is in die lewe geroep om die genetiese verbetering van vleisbeeste in Suider-Afrika te versnel met die aanwending van genomiese ontledings.

Brahman-telers van Suid-Afrika, Namibië en Australië neem saam deel. Die uitreiking van teelwaardes vir sekere wenslike eienskappe, waaronder voerinname, is een van die doelwitte. Die genootskap het reeds ’n genomiese teelwaarde vir residuele voerinname bekom. Hierdie eienskap is belangrik om vleisbeesrasse meer mede dingend met ander dieresoorte te maak, soos hoenders en varke, waarvan die voeromsetting en groei die afgelope dekades aansienlik verbeter het.

“Ons wil dus beeste teel wat minder voer gebruik om meer vleis te produseer. Die verbetering van hierdie belangrike ekonomiese eienskap is tot almal se voordeel, van die voerkraal tot die verbruiker,” sê Hunt.

“Weens die strawwer boerderytoestande wat deur aardverwarming veroorsaak word, sal beesboere geen keuse hê as om met geharde rasse te boer nie. Die Brahman is uitgeknip vir dié toenemende hittegolwe en droogtes.” Die Brahman se basterkrag is ’n plus - punt. Niks kom by die ekstra gewigs - toename wat die Brahman toevoeg wanneer hy met ander rasse gekruis word nie. Die ras is vrugbaar en die koeie het sterk moedereienskappe.

Gratis bylaag
Klik hier om 'n gratis Brahman-bylaag af te laai.

Pioniertelers 

Die eerste Brahmane is in 1954 deur mnr. Ju¨rgen Cranz van Namibië van Amerika af ingevoer. Toe Suid-Afrika se Brahman-beestelersgenootskap in 1957 gestig is, was daar reeds 260 Brahmane na Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe ingevoer. Die SA Stamboekvereniging het die Brahman in 1958 as ’n volwaardige ras erken.

Sydney se pa, Reg, het die Hunt- Brahman-stoetery in 1959 gestig. Sydney het in 1967 begin boer. Sydney, sy seun, Geoffrey, en Sydney se broer, Mark, het saam ’n boerderyvennootskap, Hunt Farming. Hunt sê die Brahmane was destyds geneig om kleiner te wees. Die Brahman is in Amerika as teenvoeter vir die Britse rasse geteel.

Die gedagte was om ’n kleiner, geharde bees te ontwikkel. Suid-Afrika het op daardie patroon voortgegaan, maar die Hunts het later groter, swaarder Brahmane in Amerika raakgeloop en ingevoer.

Vleiseienskappe

In die praktyk neem die Hunts volledig aan die VGP deel. Dit het by kunsmatige inseminasie begin, waarna dit tot die prestasietoetsing van jong bulle by die Landbounavorsings - raad se Armoedsvlakte-toetsstasie uitgebrei het. Bulle se groei word eers geevalueer voor hulle geslag word om vir gewenste vleiseienskappe soos sagtheid, ribvetdikte, marmering en oogspieroppervlakte geëvalueer te word.

Hulle gebruik ook koppelbulle, wat dus in ander kuddes in Suid-Afrika, Namibië, Australië en Amerika vir teling aangewend word. Hunt bestempel hierdie teelwaardes wat hulle van die Brahman-beestelersgenootskap af kry as ’n waardevolle hulpmiddel vir seleksie om bulle uit te skakel wat nie in gewenste eienskappe vir byvoorbeeld temperament voorsien nie.

Gevolglik kan hy die regte bulle vir paring gebruik en terselfdertyd die beste, vrugbare koeie vir teling selekteer. Hunt voorsien ’n blink toekoms vir die Brahman. Die eerste deel van die VGP het goeie dividende opgelewer. Met die voortsetting van die projek sal die enkele eienskappe in die Brahman se mondering wat nog verstellings nodig het, verbeter kan word en dan sal daar geen keer aan die ras wees om die grootste vleisbeesras te word nie.

“Die Brahman se mededingende, natuurlike eienskappe het hom gebring waar hy is. Nou is dit in die telers se hande om die bees verder te verfyn en die laaste treë na die wenpaal te gee,” sê Hunt.

Navrae:
Mnr. Sydney Hunt, 082 462 6416, e-pos: sahuntfarming@gmail.com