Dus ding meer diere mee om voedsel in die veld. Sekere gebiede was geseën met reën, maar ander dele was nie so gelukkig nie. Gevolglik het elke wildsplaas te doen met sy eie unieke toestande ten opsigte van voerbeskikbaarheid. Byvoeding moet aangepas word om by elk van hierdie toestande aan te pas.

Gebiede wat geseën is met goeie reën, sal moontlik voldoende weiding hê om diere deur die winter te dra. In sulke gevalle is die tekortkomende voedingstowwe gewoonlik proteïen en minerale. Die meeste Afrika-herbivore is herkouers, met die uitsondering van die sebra, olifant, renoster, seekoei, vlakvark en bosvark.

Herkouers het proteïen nodig vir rumen-mikro-organismes om plantaardige materiaal te verteer en om te skakel na bruikbare energie vir onderhoud en produksie.

’n Hoë-proteïen-produk (14% tot 16% ru-proteïen) sal die ideale produk wees om hier te gebruik. Die diere kry ’n goeie porsie proteïen en spoorminerale in om weidingsinname te stimuleer en sodoende energie beskikbaar te stel om liggaamsfunksies en kondisie te onderhou. Aanvullende voer word in hierdie geval teen 1% tot 1,5% van liggaamsgewig gevoer.

Dan is daar ook die scenario waar reënval skaars was en die veld nie genoeg ruvoer sal bied om diere suksesvol te oorwinter nie. Daar kan duidelik onderskei word tussen blaarvreters soos koedoes (rantsoen bestaan 70% tot 90% uit blare en struike), grasvreters soos gemsbokke (rantsoen bestaan 70% tot 90% uit gras) en dan natuurlik rooibokke en elande wie se rantsoen uit gelyke dele gras en blare of struike bestaan. 

Die mededinging tussen verskillende spesies neem toe sodra daar nie voldoende voedsel beskikbaar is nie. Omdat veld beperk is, kry diere in die eerste plek nie genoeg voer in om hul pense vol te maak nie en boonop moet hulle verder loop en harder meeding om die beperkte beskikbare bronne. In hierdie omstandighede is proteïen en minerale nie meer die primêre tekort nie, maar eerder al die voedingstowwe met energie as eerste beperking. 

Hoë-proteïen-aanvullings gaan dus nie die ideale keuse wees nie, omdat oortollige proteïen, met beperking op energie, ’n verdere eis op die energiebalans van die dier plaas.

Die rede hiervoor is dat proteïen in sulke omstandighede afgebreek word om eerder energie aan die liggaam te voorsien as om die belangrike funksies waarvoor proteïen bestem is te vervul. Die probleem hiermee is dat die aanwending van proteïen as energiebron baie energie-intensief en dus ondoeltreffend is. 

Diere verloor dus drasties gewig (tot 25% tot 30% van hul liggaamsgewig in sekere gebiede). In hierdie geval van voedseltekort sal 'n gebalanseerde produk met minder proteïen (12%) en meer energie die keuse van aanvulling wees. Waar veld beperk is, moet diere teen ongeveer 2% tot 2,5% van hul liggaamsgewig gevoer word, maar waar daar minimaal of geen veld is nie, moet diere rondom 2,5% tot 3% van hul liggaamsgewig, of ad lib, gevoer word om in hul voedingstofbehoeftes te voorsien.

Meadow se reeks wildsprodukte (tabel 1) bied opsies vir elkeen van die bogenoemde toestande.

Tabel 1: Meadow-wildreeks. 

  • Alle produkte bevat ’n gebalanseerde spoormineraalpak.
  • Kleinraamwild: 30-60 kg liggaamsgewig
  • Grootraamwild: 80-600 kg liggaamsgewig

Die fisieke vorm van die produk wat uitgesit word, hang af van die boer se keuse en infrastruktuur. ’n Belangrike punt om in gedagte te hou is om voldoende vreetspasie by die voerstasies te verseker. As daar onvoldoende voerspasie beskikbaar is, sal die groter wild soos blouwildebeeste en elande die kleiner wild weghou en dan kry die laasgenoemde selde kans om hul porsie te vreet.

Onthou, kleiner wild benodig meer energie en proteïen per eenheid liggaamsgewig om in hul metaboliese behoeftes te voorsien. Hul kapasiteit om voer in te neem (per eenheid van liggaamsgewig) is ook laer as groter wildspesies en daarom verloor hulle vinniger kondisie as mededinging in die veld toeneem.

Om hierdie redes is dit belangrik dat kleiner wild regverdige toegang tot hul voerporsie kry. Dit help soms om ’n voerblok of twee 20-30 meter vanaf die hoofvoerstasie uit te sit sodat kleiner spesies kans kry om te vreet.

Pierre Haasbroek is tegniese bestuurder van Meadow Feeds (Oos-Kaap).

Registrasienommers ingevolge Wet 36 van 1947:

V28715 Pro-12 Game Feed

V28716 Pro-14 Game Feed

V28717 Pro-16 Game Feed

V18591 Game Block