Die Afrika Droughtmaster-ras se funksionele eienskappe beteken meer wins vir die kommersiële boer. Van die eienskappe wat uittroon, is die beeste se merkwaardige lengte van lyf, vel- en haarkwaliteit, vrugbaarheid, moedereienskappe, poenskopgene en erfdwang. Verpligte DNS-toetsing is onder alle geregistreerde diere van toepassing.

Danksy hierdie verpligte DNS-toetsing weet die koper presies watter genetiese eienskappe hy kry, wat dus oorgedra word na die nageslag. Die Afrika Droughtmaster se goeie melk- en vrugbaarheidseienskappe is ’n wenkombinasie. Die kalwers is klein by geboorte, terwyl die koeie swaar kalwers speen.

Hierdie eienskappe word dus na die nageslag van die kommersiële kuddes oorgedra. CONSIDERATA SA Mnr. Johan Dannhauser van die bekende Considerata SA-stoetery is een van die voorste telers van hierdie nuwe ras. Hy teel die afgelope dekade of wat suksesvol met Afrika Droughtmasters.

Die Dannhausers van die plaas Goedgedacht (sedert 1876) naby Parys in die Vrystaat is boere in murg en been. Johan is die sesde geslag op die plaas en boer saam met sy pa, mnr. Kobus Dannhauser. Benewens hul eie voerkraal is die Considerata SA Droughtmasters sedert 2010 een die boerdery se suksesvolle vertakkings.

“Die ras presteer goed ekstensief sowel as in die voerkraal. Ek wou meer in die ras belê en het toe die stoetery begin. Ek het ook die Droughtmaster se land van herkoms, Australië, besoek om self te sien in watter ekstensiewe toestande hulle daar boer. Die ras is gehard en aanpasbaar en die Aussies pamperlang nie hul beeste nie. Beeste wat nie aanpas en presteer nie, val uit,” sê Johan.

“Hulle boer dikwels sonder arbeiders en slegs familielede sal met van 5 000 tot 20 000 beeste boer. Danksy die ras se goeie temperament is dit makliker om met minder mense om meer beeste te behartig wanneer dit nodig is.” Op Goedgedacht is die veld (soet- en suurveld) en aangeplante veldweidings, soos smutsvinger en witbuffelgras, volop.

Die bul 15-66 CSA is ’n voorbeeld van die topkuddevaars wat deur Considerata SA geproduseer is.

Die kudde bestaan uit sowat 250 Afrika Droughtmaster-stoetkoeie. Johan maak gebruik van embriospoeling om sy kudde teen ’n vinnige tempo uit te brei met van die beste teelmateriaal wat beskikbaar is. Hy wil Droughtmasters teel wat aangepas is by Suider-Afrikaanse toestande deur ’n kombinasie van Suid-Afrikaanse en Australiese teelmateriaal te gebruik. Afrika Droughtmaster-speenkalwers het ’n kostevoordeel omdat jy hulle vir ’n korter tyd moet voer om die teikengewig te behaal.

“Ons bedryf ’n gebalanseerde beesboerdery waar ons ’n uitgroeistelsel (backgrounding) op die veld gebruik om speenkalwers groot te maak. Hoe minder tyd ’n speenkalf in die voerkraal deurbring, hoe beter, maar ons pas by die omgewing, weiding en mark aan. “Die ras se speenkalwers is in groot aanvraag by voerkrale omdat hulle só goed presteer.”

Veiling

Op 15 April om 11:00 word die vierde Considerata SA Droughtmaster- produksieveiling by die Afridome op Parys in die Vrystaat gehou en aangebied onder die beskerming van die Africa Droughtmaster Society of Namibia.

Alle diere op aanbod is geregistreerde diere. Considerata SA se Droughtmaster-produksieveiling spog vanjaar met vier kuddevaars, agt dragtige verse uit Australiese bulle en 17 beproefde top-embrioskenkers te koop.

Semen van al die bulle wat Considerata SA gebruik, is ook op aanbod, asook ’n paar driein- een koeie. Hou Considerata SA se Facebook- blad dop vir nog inligting.

“Dit is ’n puik geleentheid om goeie teelmateriaal te bekom. Jy kan ook jou kudde vinniger uitbrei as jy embriospoeling gebruik. Ek het koeie waarvan ek al meer as 100 nageslag verwek het deur die gebruik van embriospoeling. Dit is die toekoms om vinniger veeverbetering toe te pas.” 

Navrae:
Considerata SA, e-pos: consideratasa@gmail.com, 082 655 4271; Genootskap, e-pos: office@droughtmasterafrica.co.za, web: www.droughtmasterafrica.co.za; me. Liezel Grobler, 082 922 4616.