Laeveld Agrochem is druk besig met voorbereidings vir die Seil-Safari op die luukse passasierskip die MSC Musica. Dié bootreis duur van Maandagoggend 1 April tot Vrydagoggend 5 April, en vertrek vanaf Durban na Pomene in Mosambiek. Laeveld Agrochem se Seil-Safari is anders as die tipiese luukse bootreis en is pasgemaak vir boere, hul gesinne en mense in landboukringe.

Slegs ’n beperkte aantal kajuite is beskikbaar, maar tien gelukkige paartjies kan gratis dubbelkajuite wen. Om in aanmerking te kom vir die prys, moet jy aan die SMS-kompetisie deelneem. SMS die woord “Seil” saam met jou plaas se naam, jou naam, van en adres na 33677.

Volledige bepalings en voorwaardes is onder dié artikel beskikbaar.

Spesiaal vir boere

Dié unieke landboubootvaart is die geesteskind van mnr. Corné Liebenberg van Laeveld Agrochem. Die program kombineer aspekte van ’n landbouskou, boeredag, werksessies, vermaak en ontspanning, waaronder ’n besoek aan die Pomene-eiland.

“Ons wil ’n spesiale platform skep waar produsente kan ontspan, kennis inwin, lesse uitruil en skakelgeleenthede ontgin – sonder die gejaag van die alledaagse lewe. ’n Produsent staan nooit alleen nie, en op die Seil-Safari kan hy ál die bogenoemde saam met sy gesin beleef, asem skep, batterye herlaai en hoop kry vir die toekoms,” sê Liebenberg.

“So ’n reis is ook nie uitspattig nie. Dit kos baie dieselfde as ’n tipiese gesinsvakansie, inaggenome wat alles ingesluit is. Ons doen dit omdat ons ’n behoefte vir hierdie soort interaksie waargeneem het.”

Laeveld Agrochem se Seil-Safari is ’n bootreis wat gemik is op boere en hul gesinne. Dit kombineer vermaak en inligtingsessies soos geen boeredag op land kan regkry nie. Foto: Verskaf

Leer aan boord

Landbousprekers is die Dinsdag en Donderdag aan die woord, met vermaak en musiek tussendeur. Grondhervorming, plaas- en arbeidsbestuur en praktiese wenke oor boerderypraktyke is van die onderwerpe. Een van die sprekers, mnr. Erik de Vries, hooflandboukundige van Agri Technovation, gaan saam met die Laeveld Agrochem-span praat oor die nuutste produkte en presisiedienste.

Dr. Johan Willemse, bekende landbou-ekonoom, sal perspektief gee oor die ekonomie en hoe dit boere raak. Nog ’n spreker is die bekende beesboer mnr. Nick Serfontein van die Sernick-groep, wat ’n boodskap van hoop gaan bring en meer vertel oor hoe hy opkomende boere oplei. Mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, en mnr. Theo Venter, politieke en beleidspesialis, sal oor relevante landbousake gesels.

Mnr. Jerry Maritz, uitvoerende hoof van graan by VKB Landbou, gaan ’n aanbieding oor graanverskansing op Safex lei. Donderdag is uitstallersdag, en produsente kry die geleentheid om kennis te maak met die nuutste tegnologie, werktuie en moniteringstoerusting vir die landbousektor.

Gesels gerus met kenners en verteenwoordigers om meer oor dié dienste en produkte uit te vind.

Blaaskans

Die MSC Musica het moderne kajuite en geriewe. MSC bied spesiale vermaak vir kinders. Afgesien van vyfsteraandetes en drie swembaddens is daar minigholf, ’n tennisbaan, ’n vlugbalbaan en ’n speletjiesvertrek. Gaste kan ook deelneem aan gelukkige trekkings, wat ’n persoonlike kuiersessie saam met van die kunstenaars insluit.

Laeveld Agrochem se Seil-Safari is ’n bootreis wat gemik is op boere en hul gesinne. Dit kombineer vermaak en inligtingsessies soos geen boeredag op land kan regkry nie. Foto: Verskaf
Laeveld Agrochem se Seil-Safari is ’n bootreis wat gemik is op boere en hul gesinne. Dit kombineer vermaak en inligtingsessies soos geen boeredag op land kan regkry nie. Foto: Verskaf

Terugvoering

Oorweldigend gunstige terugvoering het ná die vorige bootreis aangedui hoekom dit ’n wenwen- geleentheid vir die boer en sy gesin is. “Dit het ons verwagtinge oortref met leersame lesings, goeie vermaak en verblyf, en eersteklas kos en drankies. Dankie vir die onvergeetlike reis,” het mnr. Gys du Toit sr. van die Dutoit Groep gesê.

Bespreek nou

Die koste beloop vanaf R5 400 per persoon wat ’n binnekajuit deel. Dit sluit alle etes en vermaak, die Pomene-besoek en die konferensie in. Hawebelasting van R1 235 per persoon en drankies is uitgesluit by dié prys. Dié prys sal vanaf 7 Januarie opgaan na R5 800 per persoon.

Navrae:
Tel. 060 458 8483. Webwerf: www.seilsafari.co.za; e-pos: bespreek@seilsafari.co.za.
Bepalings en voorwaardes

Die stemlyn sluit op 8 Maart 2019 om 17:00. Wenners sal lukraak gekies word. Daar is 10 x dubbelkajuite beskikbaar, asook 100 x R1,500 afslag koeponne.

Belangrik:

• Die prys sluit net 1 x standard dubbelkajuit en hawebelasting vir twee persone wat deel in.

• Die wenner moet self tot in Durban kom.

• Ekstra etes en dagreise is nie ingesluit nie.

• Wenners moet ’n geldige paspoort, wat vir ten minste 6 maande geldig is, hê. Die paspoort moet ook ten minste drie blaaie oop hê.

• Jy moet 18 jaar of ouer wees om in aanmerking te kom vir die wenprys.

• Kinders onder 18 wat saam met hulle ouers reis en 'n kajuit met hul deel, reis gratis (hawebelasting van R800 per kind, vervoerkoste na Durban, verversings en dagreise is wel op hulle van toepassing)

• Pryse is nie oordraagbaar nie en kan nie vir kontant geruil word nie.

• Wenners van kajuite wat reeds 'n plek op die reis bespreek het, sal sy geld terugkry, óf die wenner kan iemand anders in sy plek nomineer.

• Die geskenkbewys is net bruikbaar vir nuwe besprekings.

• Die keuse van wenners is finaal. Die wenner sal in kennis gestel word. Personeellede van Media24, Laeveld Agrochem en MSC Cruises en hul gesinne mag nie deelneem nie. J y moet ’n geregistreerde selfoongebruiker wees om aan die kompetisie deel te neem; indien nie, moet jy toestemming van die eienaar kry. Elke SMS kos R1,50.

Media24 en die borge aanvaar geen verantwoordelikheid vir skade wat uit deelname aan die kompetisie kan spruit nie. Die borge is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse aan die wenners binne ’n redelike tyd.

Met jou inskrywing gee jy toestemming aan Landbouweekblad en Laeveld Agrochem om jou te kontak vir enige soortgelyke promosies.