PROMOSIE

“SBS Tanks hou die water in en SBS Agri se produkte hou die water uit,” sê mnr. Leon Oosthuizen, besturende direkteur van SBS Agri, skertsend. SBS se produkte het groot belangstelling gewek op die Nampo-oesdag buite Bothaville. 

SBS Tanks se watertenks word by die SBS-groep se hoofkantoor in Pinetown vervaardig. Groottes wissel van 7 000 liter tot 3,3 miljoen liter.

SBS Agri het ook takke in Gauteng en die Wes-Kaap, verteenwoordiging in Ghana en Kenia, en ’n tak in Houston in die Amerikaanse deelstaat Texas.

“Ons klante kom eerste. Sonder die boer het ons nie ’n bestaansreg nie. Dit gaan nie net vir ons oor die verkoop van ’n silo nie, maar ook oor die skakeling met die kliënt, die gehalte van die installeringsdiens van die opbergingstelsel en naverkopediens.”

Die vraag na SBS se duursame produkte het gou dermate gegroei dat ’n groter vervaardigingskapasiteit nodig was.

“SBS is die grootste Zincalume®-tenkvervaardiger (sink en alumunium) in Suid-Afrika met ’n ISO9000-fabriek. Om ons silo’s te verskaf het ons gesoek na ’n vennoot wat dieselfde waardes as ons het, en wat ook die vermoë en vaardigheid het om dieselfde gehalte produk te vervaardig wat ons wil hê, maar teen ’n hoër tempo as wat ons plaaslik kan lewer.”

Hiervoor is ’n vennootskap met Lambton gesluit. Dié internasionale maatskappy spesialiseer in die ontwerp en vervaardiging van graansilo’s, opbergtenks en vervoerbandstelsels en is bekend vir sy presisie en die gehalte van sy vakmanskap.

Die gehalte van sy vakmanskap dra by tot die bekostigbaarheid van die graansilostelsels op lang termyn. Graanverliese weens ’n goedkoper, maar swakker silokonstruksie, is nié ’n goeie belegging nie, verduidelik Oosthuizen.

“ ’n Silo van goeie gehalte sal ’n baie langer gebruiksduur hê. Jou opbrengs op die belegging is daarom soveel meer. ’n Graansilo van goeie gehalte beskerm jou graanoes teen besmetting of bederf.”

Verskillende plase en ondernemings het verskillende behoeftes en SBS Agri pas gemaklik daarby aan.

“Ons silo’s se kapasiteit pas aan by dít van die klant benodig. Dit wissel van 105 ton tot 20 000 ton. SBS Agri het sy eie span ingenieurs en tegniese tekenaars om jou graanopbergingstelsel perfek te ontwerp vir dit wat jy nodig het. Só vind ons pasgemaakte oplossings saam met die boer of die kommersiële kliënt vir graanopberging,” sê Oostuizen.

NAVRAE: Conraad Purchaseby e-pos: info@sbsagri.co.za; web: www.sbsagri.co.za 079 691 5022 ; 031 825 3546; 0861 727 2474.