Die vraag na die gemotoriseerde sweeftuie het grotendeels bly groei omdat die gebruik veilig en bekostigbaar is teen so min as R70 per uur. Nirvana se doel is wel om seker te maak dat die tegnologie steeds verbeter. Deur die insameling van inligting onder verbruikers en met die samewerking van ontwerpers, ingenieurs en kundiges het die tegnologie so gevorder dat dit dié vorm van vlieg amper herontwerp het. 

Boere se vrae rondom die produk kan as volg opgesom word:

  • Die beste vliegure is soggens en saans. Hoe kan die vliegondervinding verbeter word tydens warmer tye van die dag?
  • Die meeste ongelukke vind plaas tydens opstyging. Hoe kan veiligheid verbeter word?
  • Die gewig van die sweeftuie was nog altyd aan die swaar kant, met die gewig van motors tot 50 kg. Hoe kan die gewig verbeter word?
  • Al is Nirvanas bekend vir die beste petrolverbruik in gemotoriseerde sweeftuie, hoe kan die petrolverbruiksyfers verder verbeter word en vliegure per tenk brandstof dus verleng word?

Nirvana en die Dudek-vlerkvervaardigers het met bogenoemde vraagstukke aan die werk gespring om hul tegnologie te verbeter.  Wat motortegnologie betref, het Nirvana saamgespan met die Universiteit van Praag in Tsjeggië om die elektroniese beheerstelsel te verbeter. Die resultaat was die ontwikkeling van ’n motor waarvan die vonk ten volle van ’n piepklein rekenaar en battery kom, pleks van tradisionele motors waarvan die vonk deur die enjin verskaf word. 

Met die kraglewering wat deur ’n rekenaar beheer word, kon Nirvana die kraglewering en die petrolverbruik verbeter. Die unieke battery is skaars so groot soos drie klein AA-batterye en verskaf die rekenaarfunksies sowel as die vonk vir so lank as 1 600 km se vlugafstand, waarna dit binne minute kapasiteithernuwing kan kry deur ’n voertuig of 220 V-kragpunt. 

Die 200cc-Nirvana lewer nou aansienlik meer krag as die vorige 230cc en die 230cc in die “boere-aanbieding” – amper 30% meer – terwyl die gewig van die motor met tot 10 kg verminder is. 

Met die hulp van die nuwe rekenaarstelsel kon die petrolverbruik verbeter word tot ’n skamele 1,9 liter per uur. Omdat die gemiddelde gewig van boere en wildbestuur-belanghebbendes van 105 kg tot 115 kg is, is die verhoging in krag en vermindering van gewig oorweldigend gunstig ontvang. 

As dit kom by voorvalle tydens die opstygfase, het Nirvana die verkope van bykomende onderdele dopgehou om dié voorvalle te monitor. In 2016 het Nirvana gesien 15% van sy kliënte het onderdele nodig wat toegeskryf kan word aan voorvalle met opstyging. In 2021 het kliënte wat uitsluitlik met sweeftuie met nuwe tegnologie, ’n kleiner gewig en beginnervlerke vlieg, geen voorvalle aangemeld.  Dit is dus duidelik dat die kombinasie van kleiner gewig, vermeerderde kraglewering en nuwe vlerktegnologie ’n duidelike impak gemaak het. 

Foto: Verskaf

Vlerktegnologie het inderdaad drasties verbeter. Die Poolse maatskappy Dudek het gekonsentreer op die algemeenste voorvalle en die vlerke meer weerstandig gemaak wat betref windrigtingverandering. Bykomende verbeterings het vlerke meer reguit en weerstandig gemaak tydens warm vliegtoestande. 

Op ’n onlangse tentoonstelling van die nuwe tegnologie aan die Suid-Afrikaanse verkennersmagte, of recces soos hulle bekend staan, is die voordele van die verbeterings bewys tydens praktiese vliegoefeninge. Gewapende wildbewaringspanne en spesiale magte gaan voordeel trek uit die opgraderings. 

Met die kundigheid opgebou in wildbewaring, wildtelling, sekuriteit en algemene langafstandvlieg bied Nirvana Africa nou basiese en gespesialiseerde opleiding aan. Die hoop is om toegang tot vlieg meer bekostigbaar te maak, asook om gespesialiseerde gebruikers doeltreffender te maak wanneer dié vliegvorm gebruik word.

Kontak Eugene by eugene@nirvanaafrica.co.za of 082 850 6531 vir nog inligting oor verskaffing en opleiding.