Die potensiaal van die Brahman om vleis van topgehalte te lewer, is onlangs beklemtoon met toetse wat op, onder meer, Brahmane gedoen is. Die toetse ook die idee dat dié bees se vleis taai is, weerlê. 

Daar bestaan tans twee datastelle vir die Brahman. Die eerste datastel is gekry van bulle wat gedurende die Suider-Afrikaanse Beesgenomikaprojek (BGP) geslag is en by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Diereproduksie-instituut (DPI) getoets is. Die tweede stel kom van fase C/D-toetse by Bufland en is by die Universiteit van die Vrystaat (UV) getoets. Die eerste stel bestaan uit 203 monsters en die tweede uit 51 monsters. Al dié monsters is geneem van diere wat geen groeistimulante ontvang het nie.

Bufland-data

Daar het 154 bulle aan die fase D2-toets by Bufland deelgeneem. Terselfdertyd het van die bulle ’n fase C-toets begin, wat ’n bykomende waarde vir residuele voerinname opgelewer het. 

Die gemiddelde ouderdom van die bulle was 15,7 maande en 49 vaars is verteenwoordig. Dit dui op ’n wye genetiese samestelling van die groep, wat goed is omdat dit die identifikasie van meerderwaardige diere oor ’n wye spektrum van bloedlyne toelaat. Met die voltooiing van die toets is die bulle volgens rasstandaarde beoordeel. 

Die slaggroep

Ná ’n toetsfase van 112 dae (aanpassing 28 dae, toets 84 dae) en afronding van 27 dae is 51 bulle geslag en die monsters is na Bloemfontein vervoer. By die universiteit se vleislaboratorium is ’n 4 cm-dik biefstuk gesny en vir sewe dae verouder. Daarna is die Warner-Bratzler-skeurkragtoets op die gaar, verouderde biefstuk gedoen.

Die oorblywende deel van die lendesnit is voorberei om met chemiese analise die binnespierse vetinhoud te bepaal. Die oogspieroppervlakte is vasgestel deur middel van videobeeldanalise vanaf transparante wat by die slagpale afgetrek is.

Resultate

Prof. Arno Hugo van die UV se departement voedselwetenskap het die toetse gedoen en ván sy bevindings is:

 1. Die gemiddelde persentasie marmering was 0,91. Dit het gewissel van 0,44% tot 2,33%, wat baie laag is, maar nie onverwags nie omdat die diere so jonk was. Om ’n effek te hê op vleisgeur en sappigheid is ’n minimum van 4% nodig. 

2. Die Warner-Bratzler-skeurkragtoets (sagtheid) van die vleismonsters wat vir sewe dae verouder is, was baie goed. Dit het gewissel van 1,45 kg tot 3,94 kg met ’n gemiddelde van 2,5 kg. Vir die kleinhandel is ’n skeurkragwaarde van minder as 4,6 kg aanvaarbaar. Al die Brahman-monsters het aan hierdie vereiste voldoen. Vir voedseldienste is ’n skeurkragwaarde van 3,9 kg nodig. Slegs een monster het nie hieraan voldoen nie. Dis indrukwekkend dat bykans al die Brahman-monsters aanvaarbaar was vir gebruik in die restaurantbedryf. 

3. ’n Groot variasie in oogspieroppervlakte is tussen individuele karkasse waargeneem – van 4 306,13 mm² tot 8 208,93 mm² met ’n gemiddelde van 6 684,46 mm². ’n Groter oogspieroppervlakte word verbind met ’n hoër vleisinhoud in die karkas. 

Met dié resultate wil die Brahman-beestelersgenootskap twee boodskappe oordra: Eerstens dat variasie wel binne die ras bestaan, wat wys dat seleksie vir sagtheid wel gedoen kan word; en tweedens dat daar feitlik geen korrelasie tussen skofhoogte en sagtheid van die vleis is nie.

Brahman-doelwitte en teikens

Die Brahman-beestelersgenootskap sê hy is verbind tot die daarstelling van ’n verwysingsbevolking vir al die Brahman-eienskappe, om te dien as ’n beginpunt vir die berekening van genomies ondersteunde teelwaardes. Vleisgehalte is ’n prioriteit en die genootskap wil genoeg monsters versamel vir die berekening van ’n teelwaarde.

Navrae:
Brahman-beestelersgenootskap, 051 446 4619/446 3452, e-pos: info@brahman.co.za. Webblad: brahman.co.za.