Dié maatskappy, wat sedert 1964 sy dienste aanbied en al vele suksesvolle veillings aangebied het, verstaan dat die aard van sy besigheid en die konteks waarbinne dit aangebied word, voortdurend verander.

Van’s Auctioneers bly op die hoogte van tegnologiese ontwikkeling. Hy gebruik toenemend digitale bemarking op onder meer verskeie webwerwe en sosiale-mediaplatforms. Wat egter deur al die jare dieselfde gebly het, is sy voortdurende verbintenis tot hoë etiese standaarde en professionalisme.

Van’s Auctioneers het al bewys dat hy kundig oor die veilingsbedryf is. Daar is amper niks onder die son wat nog nie by hom onder die hamer gekom het nie.

Verlede jaar het ’n besproeingsboerdery naby Hopetown met ’n rekordprys van R440 miljoen met ’n verdere R45 miljoen vir die somergewasoes op die lande die hoogste bod op een van sy veilings behaal. Die rekordprys is volgens Van Eyk hom te danke aan verskeie faktore. “Die plaas is uiters indrukwekkend met ’n fantastiese ligging op die oewer van die Oranjerivier. Dit is ook baie goed bestuur en het toegang tot baie water danksy die watergebruiksregte, asook baie landerye onder besproeiing.  Die infrastruktuur op die plaas was ook in ’n puik toestand.”

Van Eyk sê besproeiingsboerderye is een van die verskeie tipes plase wat verlede jaar op die maatskappy se veillings te koop aangebied is. Kopers kon ook op saai-, vrugte-, wild- en beesplase bie. “Hoewel daar nie spesifieke gebiede is wat op die veilings uitgestaan het  nie, was daar spesifieke tipes plase wat gewilder was op die veilings. Kommersiële plase het veral goed gevaar. Saaiboerderye met besproeiing en plase met watergebruiksregte is altyd gewild.”

Volgens hom is gesonde grond nog ’n pluspunt wat kopers se aandag trek. Kopers is ook meer gretig om grond te koop wanneer dit gereën het en die wêreld nat en groen is. Boere se sentiment oor die stand van sake in die landboubedryf en algemene ekonomiese faktore beïnvloed ook of ’n plaas suksesvol opgeveil sal word of nie.

Die impak van die droogte was op verlede jaar se plaasveilings duidelik, vertel Van Eyk. “Ons het heelwat plase in opdrag van finansiële instellings en likwidateurs verkoop.”

Dit is egter verbasend dat meeste van die plase gekoop is deur bestaande boere wat hul boerdery wou uitbrei. “In sommige gevalle is die plase gekoop deur boere uit ander gebiede wat die grond koop ten einde hul boerderye te diversifiseer.”

Hoewel dit moeilik is om te voorspel hoeveel plase vanjaar onder die hamer sal kom, meen hy veilings bly een van die betroubaarste en doeltreffendste maniere om plase of enige ander bate te verkoop. “Boere is welkom om met ons te gesels indien hulle meer oor die proses wil weet.”

Besoek Van’s Auctioneers se webwerf of Facebook-blad vir nog inligting.