Die bedryfseksklusiewe 8RX-reeks is ontwikkel met maksimum grondbeskerming, sonder om werkverrigting in te boet. Dit bied dus die laagste kontakoppervlakdruk in sy klas met ’n maksimum spoorwydte van 3 m. Die trekker is buitengewoon stuurbaar, terwyl dit merkbare grondskuureffekte verminder wanneer gedraai word.

Vergeleke met gewone tweerusperband-ontwerpe is die 8RX aansienlik stabieler teen heuwels en dit presteer goed in moeilike grondtoestande vanweë die voortreflike selfskoonmaakvermoë. Die bande is beskikbaar in verskeie kombinasies met breedtes van 18 duim tot 30 duim (46 cm tot 76 cm), wat ’n totale grondkontakarea van 3 m² tot 4,5 m² kan bied.

Die nuutste reeks 8R-trekkers behou John Deere se beproefde en ekonomiese 9 liter-PowerTech-enjins, wat 30 kW meer lewer in die 8RT 410 as in die ouer8RT 370. Nuwe funksies sluit in ’n Visco-verkoelerwaaier en die verplasing van die enjinhulpstelsels aan die voorkant. Die nuwe ontwerp en kleiner hitteblootstelling verminder die koste van slytasie en instandhouding verder.

Die gevestigde transmissie-opsies sluit in die 16/5 PowerShift, wat nou beskikbaar is tot met die 8R 340-model, die moderne e23™ met Efficiency Manager en die traplose IVT™. Die agterremme is aansienlik versterk, dus is voorremme nie meer nodig nie, hoewel bykomende voorremme bestel kan word. Die reeks 8R-wieltrekkers bied verskeie opsionele voorasse soos die ILS™ met onafhanklike suspensie, asook die gewilde 1300- en 1500-standaardvoorasse. 

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Bestuurders sal die nuwe ontwerp van die Ultimate-kajuitpakket waardeer. Die produk het ’n moderne, geperforeerde leerafwerking, verhitting, aktiewe lugsirkulasie, ’n tweemodus-masseringsfunksie en verskeie elektries en pneumaties verstelbare sitplekonderdele. Daarbenewens is die bekroonde Active Seat II-suspensie verbeter om ’n selfs beter reaksie en groter vermindering van vertikale skokke te bied vergeleke met die eerstegenerasie-stelsel. 

Lang werkdae en -nagte sal vergemaklik word deur die geïntegreerde yskas, wat in grootte verdubbel het tot 11 liter, en ’n 360°-LED-beligtingstelsel wat 60% helderder is. Die 6,1-klankstelsel met laebasluidspreker bied ’n konsertsaalstyl-musiekervaring van topgehalte, terwyl die 6,5"-DAB+-raakskermradio vermaakfunksies uit die boonste rakke bied en met Apple CarPlay werk.

Verdere gedetailleerde verbeterings aan die kajuit op versoek van klante sluit in wyer toegang en ’n handvatsel wat laer geplaas is, asook ’n flikkerlig wat self afsit. Boonop is die lugversorgingstelsel onder die kajuit geplaas. Dit bied nie net meer kopruimte nie, maar verlaag ook die geraasvlakke in die kajuit, selfs al het die verkoelings- en verhittingsvermoë byna verdubbel.

Die baanbrekende outomatiese AutoTrac-stuurstelsel, wat ’n opsionele StarFire 6000- geïntegreerde satellietontvanger insluit, is verder geoptimaliseer, met koordlose data-oordrag na die John Deere-bedryfsentrum wat vyf jaar gratis beskikbaar is met die keuse van die verbindingspakket. Grense van lande, leidingslyne en opstellingsdata, asook gewasbeplanning en -dokumentasie kan alles vinnig en veilig bestuur word op die webgebaseerde platform. 

’n Splinternuwe, revolusionêre funksie is AutoSetup, wat dit moontlik maak om alle data oor lande, masjinerie en werktuie wat vir individuele take benodig word, regstreeks na die trekker af te laai.

Die trekkers kan op versoek van die klant van ’n afstand gemonitor word deur die telematiese JDLink-stelsel om die maksimum werktyd te verseker. Met toestemming van die klant kan bykomende inligting aan Expert Alerts verskaf word, wat moontlike masjienbeskadiging kan voorspel en die waarskynlikheid van duur herstelwerk kan verminder of heeltemal vermy.

Meer inligting oor die nuwe 8R

  • Die reeks 8R-trekkers is van die gewildste trekkers in die John Deere-stal. Dit gebruik die eerste nuwe generasie 8R-vasteraam.
  • Geïntegreerde tegnologie en die uitleg van die kajuit met maklik bereikbare kontroles maak die 8R baie gebruikersvriendelik.
  • Die trekkers word standaard toegerus met die JDLink™ met Connected Support wat die trekker in konstante kommunikasie hou met jou handelaar.
  • Die stelsel kommunikeer ook inligting oor ligging en brandstofverbruik deur na die John Deere-bedryfsentrum waar die boer sy trekker en die werking vanaf sy kantoor en selfs vanaf sy slimfoon kan monitor.

Dít maak die 8R soveel anders as sy voorgangers

  • Die 8R-reeks wat in die verlede aangebied is as 8R-wiel- en 8RT-rusperbandmodelle word nou aangevul met die nuwe 8RX.
  • Die 8RX is ’n vasteraamrusperbandtrekker, wat beteken die trekker het vier rusperbande, maar knak nie soos die 9RX-trekker nie.
  • Die 8R-wiel-modelreeks is uitgebrei, met nuwe modelle van 170 kW tot 305 kW.’n Algehele herontwerp en kosmetiese veranderinge met die insette en tegnologiese behoeftes van boere reg oor die wêreld het dié reeks trekkers geïnspireer.Daar is nou ook verskillende pakkette vir sigbaarheid en gemak beskikbaar. Jy kan LED-ligte, kameras, ’n leerstuurwiel en sitplekkombinasie kies. Nog ’n toevoeging tot sekere pakkette is die drukskerm-Bluetooth-radio, asook ’n klein yskas vir koue water op warm somerdae.
  • Die nuwe reeks het die nuwe geïntegreede SF 6000-sattelietontvangers en Gen 4-drukskerms vir beter trekkerbeheer met selfstuurfunksionaliteit.