Die landbou-omgewing en landbouwerktuie beweeg weg van doelwitte soos “sterker, groter en vinniger” na “meer presies, meer volhoubaar en meer aanpasbaar” sê mnr. Jacques Taylor, sedert Junie 2018 besturende direkteur van John Deere in Afrika suid van die Sahara.

Doeltreffende werktuie is steeds belangrik, sê hy, maar dis die waardetoevoeging wat die nuwe tegnologiese ontwikkelings bied, saam met die boer se kundigheid, wat die mededingende voordeel skep.

Hoe het jou loopbaan by John Deere verloop?

Ná 16 jaar in die bankwese het ek in Januarie 2013 by John Deere aangesluit as besturende direkteur van John Deere Financial, Sub Saharan Africa & Thailand. Aan die einde van 2015 het ek die geleentheid gekry om na Europa te verhuis as die besturende direkteur van John Deere Bank in Luxemburg. John Deere Bank bedien Wes-Europa vanuit Luxemburg met takke in onder meer Engeland, Duitsland, Spanje, Italië en Frankryk.

Middel 2018 het die geleentheid gekom om uit die finansieringsafdeling van John Deere te beweeg en as besturende direkteur van John Deere in Afrika suid van die Sahara oor te neem. In dié rol is ek verantwoordelik vir die verkope en bemarking van John Deere-produkte op die vasteland, die handelaarsnetwerk, naverkopediens en onderdele.

Is jy self ook by boerdery betrokke?

Ek het die voorreg gehad om op ’n veeplaas (beeste en skape) buite Bloemfontein groot te word. Die landbou is in my bloed. Ek het grond in Noordwes, in die distrik Molopo, waar ek in ’n vennootskap met beeste, wild en besproeiingsgewasse boer. My wiskunde-onderwyser gaan seker nie hiervan hou nie, maar ek glo die landbou is baie soos wiskunde: Jy moet wiskunde verstaan en kan nie net die teorie leer nie. Die landbou is dieselfde: Jy moet dit kan verstaan. Buiten dat boerdery my passie is, help dit my ook om in voeling te bly met die mark en ons klante.

Hoe groot is die streek wat jy as besturende direkteur van John Deere in Afrika suid van die Sahara bedien?

John Deere se kantoor in Suid-Afrika, met ondersteuning van ons satellietkantore in Kenia en Ghana, bedien ál die lande suid van die Sahara – van Senegal in die weste regdeur tot Ethiopië in die ooste van Afrika. Dit is 50 lande in Afrika – 44 op die vasteland en ses eilande.

Wat is die spesifieke struikelblokke wat ’n maatskappy soos John Deere elders in Afrika ondervind? Verskil dit van land tot land of is daar algemene hindernisse?

’n Mens is geneig om vinnig die struikelblokke wat Afrika bied, uit te lig, maar dit neem die klem weg van die geleentheid wat daar lê. Afrika suid van die Sahara is baie uiteenlopend, en verskillende vlakke van markvolwassenheid word van een land na die volgende aangetref. Elke land is eiesoortig.

Geopolitieke risiko’s en wisselkoersskommelinge is ’n probleem. Voldoende likiditeit in dollarwaarde en ’n vrye mark vir landboukommoditeite ontbreek in sommige lande. Dit is van die makroprobleme waarmee ondernemings in Afrika te kampe het.

Ondanks die hindernisse is daar ekonomiese groei. Ons sien private ondernemings wat suksesvolle besighede op die vasteland bedryf en sien groei in die landbousektor. Die interafhanklikheid van belanghebbendes in die landbouwaardeketting in Afrika is belangrik. Dit skep ’n geleentheid vir samewerking, maar terselfdertyd ’n probleem as die waardeketting nie goed gekoördineer is nie.

John Deere se bekende groen werktuie met die takboklogo het oor die jare sinoniem geword met die landbou in Suid-Afrika. Waaraan skryf jy dié handelsmerk se standhoudende gewildheid land toe?

John Deere is die wêreldleier in landbouwerktuie en ook markleier in Afrika. Dis ’n handelsmerk wat 182 jaar oud is en sinoniem is met gehalte. Ons waarde-aanbieding rus op drie bene: eerstens die gehalte van ons produkte, tweedens die gehalte en sterkte van ons handelaarsnetwerk (waardeur ons ook naverkopediens lewer) en derdens presisieboerderytegnologie. Maar dié drie aspekte kry lewe deur ons mense (binne John Deere en binne ons handelaarsnetwerk). Mense koop by mense.

Die span agter een van die grootste uitstallers op Nampo. John Deere se tegnologie, werktuie en winkel is jaarliks ’n groot trekpleister op dié skou.

Julle is bekend om voortdurende tegnologiese vernuwing. Waarom is dit vir boere so noodsaaklik om by te bly met die jongste tegnologie?

Die landbou-omgewing, en landbouwerktuie spesifiek, beweeg weg van “sterker, groter, vinniger” na “meer presies, meer volhoubaar, meer aanpasbaar”. Die gehalte en doeltreffendheid van werktuie bly belangrik, maar die waardetoevoeging is die tegnologie wat die produsent in staat stel om sy gewasse op ’n “per plant”-grondslag optimaal te bestuur.

Dis die spreekwoordelike 1 + 1= 3. Dit is die produsent se kundigheid saam met ons tegnologie wat bykomende waarde ontsluit.

Sal ons nie by ’n punt kom waar tegnologie net té vinnig begin verander en die boere dit nie meer kan bekostig om in al hoe korter tydperke toerusting te vervang om by te bly nie?

Dis ’n goeie vraag, maar ek sou die vraag omdraai: Kan ’n produsent dit bekostig om nie die nuutste tegnologie in sy of haar besigheid te hê nie? Tegnologie moet ten doel hê om doeltreffendheid en produktiwiteit te verbeter en sodoende die winsgewendheid van die landboubesigheid te verbeter. ’n Belegging in tegnologie moet ’n gunstige opbrengs lewer.

Dis belangrik om nie tegnologie as ’n “uitgawe” op die besigheid se inkomste-en-uitgawestaat te sien nie, maar eerder as ’n belegging om inkomste en winsgewendheid te verhoog.

Nuwelingboere en kleinboere in Afrika kan nie altyd tegnologie soos trekkers en stropers bekostig nie. Is daar maniere om dit meer beskikbaar en bekostigbaar te maak?

By John Deere meen ons dat elke klein boer nie ’n trekker hoef te besit nie, maar wel toegang moet hê tot meganisasie. Die kontrakteursmodel is iets waarop ons baie klem lê.

Die regte werktuie vir die geskikte bewerkingsmetodes, tegnologie om kontrakteurs en kleinboere aan mekaar te koppel, tegnologie wat die kontrakteurs in staat stel om hul toerusting te monitor, opleiding vir trekkeroperateurs, en demonstrasieplase is deel van ons Afrika-model.

Hiermee saam bied John Deere Financial ook buigbare finansieringsopsies om toerusting meer bekostigbaar te maak.

Wat beskou jy as die sterk punte of mededingende voordele van die Suid-Afrikaanse landbou? Watter eien- skappe dra hom deur moeilike tye?

Aanpasbaarheid en deursettingsvermoë kom eerste by my op. Dit saam met ’n sterk entrepreneursgees. My ervaring in Europa wys dat die Europese produsent baie afhanklik is van staatsubsidies om winsgewend te wees. In die afwesigheid van staatshulp en deur internasionaal mededingend te moet wees, het die Suid-Afrikaanse landbou ontwikkel as ’n laekosteprodusent van kommoditeite – en dit in soms marginale toestande.

Wat beskou jy as die grootste probleme vir Suid-Afrikaanse boere, en hoe kan dit aangepak word?

Ek sien winsgewendheid as die grootste hindernis in die Suid-Afrikaanse landbou, hetsy as gevolg van lae kommoditeitspryse of droogtes. Hoe om dit aan te pak, verg ’n holistiese benadering vanaf doeltreffender produksie (laerkosteprodusent), diversifikasie na alternatiewe gewasse en alternatiewe markte.

Landbou-ondernemings en die georganiseerde landbou doen baie werk om uitvoermarkte te ontwikkel en handelsooreenkomste te sluit. Dit is noodsaaklik om meer uitvoermarkte vir die land se landboukommoditeite te ontgin.

En die eise vir maatskappye in die landboubedryf, soos John Deere?

Maatskappye moet relevant bly en waarde bied. Ons verkoop nie trekkers nie, maar eerder ’n produksiestelsel wat die produsent ondersteun om winsgewender en volhoubaarder te boer.

Aan watter vereistes moet ’n goeie leier voldoen?

Eerstens moet ’n leier visie hê. Jy moet ’n droom kan skep en jou span kry om saam met jou in die droom te glo. ’n Leier moet die status quo kan bevraagteken (“what got us here, won’t get us there”) en jou span en die besigheid aanmoedig om hulself te herbedink. Integriteit is nie onderhandelbaar nie, en ’n leier moet toeganklik wees vir almal.

Het jy ’n leuse of motivering wat jou aanmoedig?

“If you are going nowhere, any road will take you there.” ’n Mens moet weet waarheen jy op pad is – in jou persoonlike én professionele lewe. Ek glo ons het almal die geleentheid om die lewe in oorvloed te ervaar, maar ons moet verantwoordelikheid aanvaar.

Wat geniet jy die meeste van jou werk?

Ek het die geleentheid om my passie uit te leef en in die proses ’n verskil in mense se lewe te maak. As John Deere het ek en my span die geleentheid om regstreeks ’n bydrae te lewer tot die groenrevolusie in Afrika.