Tech Terrain, met trots aangebied deur John Deere en met die samewerking van Landbouweekblad en Brand Republic, is ’n weeklikse program in Afrikaans en Engels wat aangebied sal word deur mnre. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, en Tony Ndoro, ’n bekende in die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese.

Die aanbieders sal weekliks in diepte gesels oor landbousake, die kwessies en oplossings in die wêreld van meganisasie en die toepassing van tegnologie. Daar sal ook met kenners gepraat word om nuwe insigte te kry oor die toekoms van die landbou in Suid-Afrika en wêreldwye neigings sal ondersoek word.

Die Covid-19-pandemie het tot gevolg gehad dat verskeie feeste, skoue en ekspo’s afgelas moes word. Die Nampo-oesdag, een van die wêreld se grootste uitstallings wat deur die private sektor gereël word, en die grootste landbou-, masjinerie- en veeskou in die Suidelike Halfrond, kon nie soos normaalweg in Mei aangebied word nie.

Mnr. Stephan Nel, bemarkingsbestuurder by John Deere, sê die maatskappy het groot planne gehad vir Nampo vanjaar en sou ’n mini-produkbekendstelling aangebied het. 

“Met die ontwikkelinge weens Covid-19 het ons besluit om ’n ander manier te kry om steeds die impak van Nampo en die John Deere-vertoning te kon hou. Wat sou begin het as ’n uur lange sessie elke week waar ons in detail nuwe produkte sou bekend stel, het by dié digitale program geëindig.”

Hy sê die visie vir die program is om voedselsekerheid in Afrika te dryf. 

“Ons weet ons kan dit nie alleen doen nie en ons moet ’n sentrale rol speel waar ons die kennis en ervaring van verskillende belanghebbendes in die bedryf, insluitend boere, kombineer om nuwe hoogtes te bereik. 

“Tegnologie is sentraal tot ons visie om nie net meer produktiewe landbougrond in die landbou te ontwikkel nie, maar ook om boerderye doeltreffender te maak deur opbrengste te verhoog en koste so laag moontlik te hou.”

Hy meen verskeie probleme staar Afrika se boere, groot en klein, in die gesig, onder meer om in ’n globaal mededingende mark relevant te bly deur meer voedsel te produseer teen ’n aanvaarbare prys aan die eindverbruiker, en boonop met die laagste koolstofspoor.

“Dan vergeet ons ook nie van die impak wat die ekonomie en beleid op die produsent en die hele voedselwaardeketting het nie. Die Tech Terrain-program bied ons die geleentheid om ’n opvoedkundige program te bied aan alle boere wat aansluiting vind by ons visie en die rol wat ons onsself sien speel in die landbou.”

Hou Landbouweekblad se digitale platforms dop vir nog inligting oor hoe om in te skakel op Tech Terrain.