Mnr. Henk de Beer, hoofbestuurder van bedrywe by Sentraal-Suid Koöperasie op Swellendam, het vanoggend gesê 80 mm reën is reeds by Swellendam se silo gemeet, terwyl Albertinia 52 mm reën gekry het, Heidelberg 68 mm, Krombeksrivier 52 mm, Ashton 15 mm, Protem 53 mm en Riversdal 45 mm. “Dit reën steeds. Dis gelukkig nie harde stortreën nie.”

Altesaam 80 mm reën is reeds by die Swellendam-silo’s gemeet. Foto: Amelia Genis

De Beer sê die reën kan ook riviere en besproeiingsdamme aanvul en boere help wat somergewasse wil plant. Die meeste boere in daardie omgewing het klaar koring, kanola en gars geoes.

Mnr. Lourens van Eeden van die plaas Vleitjie by Swellendam het gister gesê die reën val “kollerig en sulke vreeslike harde buie”. Hy het toe nog net 15 mm gemeet.

Landbou.com het ook berig gekry van 10 mm tot 40 mm op Robertson en 70 mm in Port Elizabeth.