Eiendomsreg word deur artikel 25 van die Grondwet beskerm. “Om met artikel 25 te peuter, is om met voedselsekerheid te speel,” sê die akteur Nico Panagio in die video.

Volgens Agri SA is hy gereed om stappe vir die beskerming van eiendomsregte en die bewaring van die omgewing te doen, maar hy het geld daarvoor nodig. Die video bevat dan ook besonderhede oor hoe 'n mens geld aan die fonds kan skenk.

Agri SA is reeds by hofsake rakende grondeise betrokke, soos die onlangse sogenaamde Msiza-saak, waar hy as vriend tot die appèlsaak toegelaat is, en waar die appèlhof 'n lukrake vermindering van die vergoedingsbedrag omgekeer het.

Agri SA werk ook saam met Landbouweekblad aan 'n grondoudit waardeur bepaal word wie landbougrond besit. Die resultate sal na verwagting binnekort bekend gestel word.