* Dié artikel het in Februarie 2015 in Landbouweekblad verskyn.

In ekstensiewe produksietoestande gebruik ’n skaap sowat 40% van sy voedingsinname se energie om te wei. Dié sakeman-boer, wat ’n suksesvolle intensiewe produksiestelsel volg, spaar dié 40% deur nie te bewei nie. Die sakeman mnr. Derick Lategan kon nie sy liefde vir skape afgeskud kry nie en het sy intensiewe skaapboerdery by Broederstroom in Noordwes met dieselfde vernuf as die vestiging van sy maatskappy, African Outdoor Group, aangepak.

Van meet af aan het Derick van die African Outdoor Group- SA Vleismerinostoetery op die plaas Kleine Leeuwbank besef dat ’n “flentergat-besigheid” beslis nie vir ’n intensiewe skaapboerdery sal deug nie. Inteendeel, dissipline, higiëne én netheid was ononderhandelbaar wat die ontwerp én die bedryf van die stelsel betref.

Hy het vir elke aspek van die boerdery eers gaan kyk wat beskikbaar is en wat ander mense doen, dit dan deeglik nagevors en aanpassings gemaak om sy eie stelsel ten beste te pas.

“Ons kry heelwat besoekers, ook van oorsee, wat na die boerdery kom kyk. Hulle glo summier dat die hidropiese garsgroeikamer die hart van die stelsel is. Maar hoewel dit ’n baie belangrike bydrae tot ons voedingprogram lewer, is dit slegs een van die talle aspekte wat almal saam verantwoordelik is vir die sukses wat ons behaal.”

Derick, wat op ’n saaiplaas tussen Frankfort en Oranjeville in die Vrystaat grootgeword het, se liefde vir skape het beslag gekry toe hy vir sy 16de verjaarsdag (in 1984) tien SA Vleismerino-ooitjies en ’n ram by ’n vriend, mnr. Gerrie Muller van die Revack-stoetery, Frankfort, gekry het. Hy het ná skool vir die graad B.Sc. (Landbou) aan die Universiteit van die Vrystaat ingeskryf totdat “my pa se geld opgeraak het om my ‘vakansie’ te borg”.

Hy het nooit sy studies voltooi nie en gaan boer, totdat hulle besluit het om die grond te verkoop omdat sy pa gereken het dat daar makliker maniere as die boerdery is om geld te verloor! Daarna het Derick na Gauteng verhuis, die sakewêreld betree en onder meer die African Outdoor Group gevestig.

Hy kon egter nie sy liefde vir skape afgeskud kry nie en het sewe jaar gelede ’n paar SA Vleismerino’s op mnr. Manie Lombard van Oranjeville se produksieveiling gekoop. (Manie is die voorsitter van die SA Vleismerino-telersvereniging.) Later het Derick ’n 50%-aandeel in Manie se Stelena-stoetery bekom. Hy het ’n hoewe van 9 ha by Broederstroom gekoop en in alle erns met die navorsing en ontwikkeling van sy eie intensiewe skaapproduksiestelsel begin.

Hy noem dit vandag ’n intensiewe minimumbeweidingstelsel waarbinne hidroponies geproduseerde gars deel van die skape se rantsoen uitmaak. Derick het nie lank daarna nie sy aandeel in Manie se stoetery verkoop en sy skape na Broederstroom verskuif. Hy sê hy is bekommerd oor die stand van skaapboerdery in Suid-Afrika en glo intensiewe produksiestelsels het ’n groter rol te speel in die toekoms.

Die grootste knelpunte waarmee die skaapboer vandag te kampe het, is die volgende: Statistiek toon dat ruim 20% van die nasio- nale lammeroes deur roofdiere gevang word. In droogtetye, wat die ekstensiewe skaapboer maar al te gereeld ervaar, is voerkoste sy hoofuitgawe. Die nadelige uitwerking van veediefstal. Skape staan nie verniet as take-aways bekend nie. Siektebestryding kos baie geld. Skaapboere is prysnemers en nie prysmakers nie.

Geriewe

Die hoewe by Broederstroom bestaan hoofsaaklik uit kliprante wat met onsmaaklike suurveld-grassoorte bedek is. Die klippe was ’n bonus vir al die bouwerk wat gedoen moes word. Die plantsamestelling was nie belangrik nie omdat Derick ’n volledige voerprogram in die vooruitsig gestel het.

Vyf hektaar van die hoewe is vir die skaapboerdery geoormerk, waarvan die kantoor-en-skuurkompleks en die krale, gange en hanteringskrale 0,25 ha beslaan en 4,75 ha as “weiveld” gereserveer is. Laasgenoemde bestaan uit die kliprante en ’n klein stukkie aangeplante kikoejoeweiding. Die krale beslaan 100 m² elk en huisves 25 ooie met lammers. Sowat 30% van elke kampie is onder dak vir beskerming teen die son en reën.

Elke kraal het ’n waterkrip wat op ’n betonblad gemonteer is om ’n moddertrappery te voorkom. Sommige krale het voerkraaltipe-vreetbakke wat van deurgesnyde 210 liter-dromme gemaak is. Dit kan vanaf die bedieningsgang gevul word sodat dit nie vir die werker nodig is om ’n kraal in te gaan nie. In van die ander krale word ronde voerbakke van die onderneming Tal-Tec gebruik.

Elke kraal het 20% meer vreetruimte as wat daar ooie is sodat skaamvreters nooit benadeel word nie. Verskuifbare kruipvoerhokke word vir die jong lammers tot speentyd in die krale geplaas. Die ses hanterings- en sorteerkrale spog almal met verbindingshekkies tussenin. Daar is ook ’n weegskaal en ’n klem-skaapomkeerder wat spesiaal deur Tal-Tec volgens Derick se behoeftes aangepas is.

Met die uitleg van die kraaleenhede word alle grond optimaal gebruik, met die minimum aanjaag- en bedieningsgange, sonder dat dit vir die werkers of skape ongerieflik is. Die bedieningsgange is nie onnodig breed nie, maar daar is voldoende plek vir die klein trekkersleepwa-kombinasie waarmee die voer aangery word.

Die grondoppervlak van alle krale het ’n helling van 4° sodat afloopwater in netjiese vore kan vloei na ’n versameldam waarin kurpers aangehou word. Die kantoor, medisyne- en voerskuur, die gars-groeikamer, die voermenger, die hamermeulkamer en die vleisverwerkingsgeriewe word alles in dieselfde kompleks gehuisves. Die SA Vleismerino is ’n dubbeldoelras wat bekend is vir sy puik voeromsetting.

En Derick verdien sowat R75 per ooi per jaar uit die wol. Hy laat sy ooie elke agt maande lam, wat drie lamtye in twee jaar is. Hy gebruik vier ramme vir natuurlike dekking. Een ram word vir 36 dae by 25 ooie gesit. Die ooie lam in ’n spesiale lamkraal en word daarna vir 14 dae in lamhokke gehou. Elke lamhok het kooigoed, vars water en voerbakke vir die ooi sowel as vir die lam wanneer dié begin vreet. Op 14 dae gaan die ooie en lammers na die krale. Die lammers word op 60 dae gespeen.

Voedingsontledings

Derick glo sy sukses is nie in ’n enkele aspek van die boerdery gesetel nie, maar in ál die aspekte daarvan. Neem voedingsverteerbaarheid as ’n voorbeeld: In dié verband is die voedingswaarde, die verteerbaarheid en die balans van die rantsoen belangrik. Die basiese rantsoen bestaan uit 75% hidroponies geproduseerde gars, 15% kragvoer en 10% ruvoer.

“In ekstensiewe produksietoestande gebruik ’n skaap sowat 40% van sy voedingsinname se energie om te wei. Nou spaar ek daardie 40% deur nie te bewei nie. Dít som basies my stelsel op,” verduidelik Derick. Sy skape se welsyn lê hom baie na aan die hart en hy laat wei hulle al om die tweede dag in die kliprante en op kikoejoegras vir “ ’n bietjie oefening en ook om die kloue af te slyt.”

Derick het in die afgelope drie jaar ’n paar honderd voedingsontledings laat doen om uiteindelik op die beste samestelling vir sy doel te besluit, soos die gebruik van hidroponies geproduseerde gars. Wat kragvoer betref, word Trubrands se Alles-in-een-mengsel in korrelvorm gebruik. Die rantsoene word sorgvuldig afgeweeg. Lusern word vir ruvoer gebruik.

Dit word met ’n hamermeul gemaal en in ’n toe ruvoerkamer gestort. ’n Groot fout wat baie boere maak, sê Derick, is om lusern in die oopte of onder ’n oop dak met ’n hamermeul te maal ten einde van die lastige “stof” ontslae te raak. Ontledings het gewys dat die lusernstof, wat hoofsaaklik uit lusernblare bestaan, die hoogste voedingswaarde het.

As dit eers weggewaai het, bly daar weinig anders as die minder voedsame lusernhalms oor. Dit neem drie werkers 11/2 uur per dag om die voergars te plant, te oes én drie keer per dag te voer. Dié werkers hou ook die hele werf in stand. In Derick se voedingstelsel word nie slegs die proteïen- en energievlak verhoog nie, maar ook die verteerbaarheid, terwyl die energieverbruik deur minimumbeweiding verlaag word.

Vyf fases van bestuur

“Ons bestuur ons skape se voedingsprogram deur die vyf fases van vroeë, middel- en laatdragtigheid, lam-tot-speen en dan herstel vir paring,” sê Derick. Die gemiddelde natmateriaalinname vir ’n ooi in dié agtmaande-lamstelsel is 1,8 kg/ooi/dag. Volgens algemeen aanvaarde voedingstandaarde van onder meer die American Nutritional Handbook behoort ’n ooi met ’n liggaamsgewig van 65 kg gemiddeld 1,95 kg droë materiaal per dag te vreet.

“Ons ooie kry dus eintlik slegs 50% van die algemeen aanbevole droëvoedingsrantsoen per dier per dag. Indien ons meer as ons gemiddelde nat voeding van 1,8 kg per ooi per dag voer, word oorvreet en geilsiekte ons vyande. Ons grootste bestuursprobleem is om ons ooie ná speen maer te kry vir die volgende dektyd. Dit beteken egter ook dat dit ons koste omtrent halveer om lammers te produseer,” vertel Derick.

Wat voeding gedurende die verskillende bestuursfases betref, kry die ooie in die eerste 14 dae van die maand vóór dekking 1,2 kg voer per ooi per dag om hul gewig te verlaag. Dit word opgevolg met ’n energievoeding van 2,4 kg per ooi per dag vir 14 dae om hulle gereed te kry vir dekking (flush). Tydens die natuurlike dekking oor 36 dae word die ooie 2,2 kg voer per ooi per dag gevoer. In die vroeë dragtigheidsfase van 90 dae kry die ooie 1,4 kg voer per ooi per dag.

In die mid-dragtigheidstydperk van sowat 60 dae kry hulle 1,6 kg voer per ooi per dag en in die laatdragtigheidsfase 2,4 kg voer per ooi per dag. In die 60 dae van lam tot speentyd word die ooie sowat 3 kg voer per ooi per dag gevoer. Oor die afgelope vier jaar was die gemiddelde lampersentasie 157 en die gemiddelde speenpersentasie 153.

Derick sê hy is nie tevrede met die huidige besettingsyfer van 80% nie en sal dit graag tot 90% wil verhoog. Hy vermoed die ooie is nog te vet. Afgesien van die standaard-stoetaantekeningstelsels word alle skape een keer per maand geweeg. Dié syfers word ook aangeteken. Dit wil in hierdie stadium voorkom of die ooie se normale produktiewe lewe van vier tot vyf jaar in ekstensiewe toestande in dié boerderystelsel tot sewe en selfs agt jaar verleng kan word.

Van prysnemer na prysmaker...

“Ons produseer ons hidroponiese voergars teen 75 sent per kg, die kragvoer kos R3,70 per kg en lusern kos ons R2,50 per kg. Ons gemiddelde voerrantsoen van 1,8 kg per ooi per dag bestaan uit 75% hidroponies geproduseerde gars (R1,01), 15% kragvoer (R1) en 10% lusern (R0,45). Dit beteken dit kos ons R2,46 per ooi per dag aan voerkoste en dus R602 om 1,5 lammers elke agt maande te produseer, met ander woorde R400 per lam. Ons speen op 60 dae teen ’n gemiddelde speengewig van 25 kg per lam,” sê Derick.

Die uitskotlammers word op 150 dae geslag as hulle gemiddeld 54 kg weeg. Die vleis, hoofsaaklik klas A2, word as ’n nismarkproduk aan gastehuise, restaurante en deli’s gelewer teen ’n gemiddelde prys van R75 per kg. Die gewildheid van die skaapvleis wat op dié manier geproduseer word, maak van Derick ’n prysmaker en nie meer ’n prysnemer nie. Min boere kan dít sê.

En die moontlikheid van waardetoevoeging deur die vleis tot eetgereed-disse, soos lamspasteie, te verwerk, is nie uitgesluit nie. Susan, Derick se vrou, is immers ’n knap sjef en alombekend in veral 4x4-kringe vir haar kosmaakvernuf. Gedurende die sewe jaar se ontwikkelingswerk het Derick nog nie ’n enkele skaap weens roofdiere of diefstal verloor nie.

Hy weet presies wat sy voerkoste is en droogtes hou vir hom geen bedreiging in nie. Verder ken hy omtrent nie siektes nie. Hy vertel hy het ’n paar jaargelede vir hom ’n nuwe doseerspuit op Nampo gekoop, maar dit nog nooit gebruik nie.

“Onthou, dit is ’n geslote kudde wat basies in ’n soort kwarantyngebied bedryf word. En met streng dissipline ten opsigte van higiëne en netheid kry ons dit tot nou toe reg om siektevry te wees,” sê Derick. (Hy het wel al enkele skape weens bloutong en oorvreet verloor.) Hy sê hy is tevrede dat dié stelsel vir hom werk en dat dit ook ander boere sal aanspoor om soortgelyke intensiewe minimumbeweiding-skaapboerderye naby die groot markte te vestig.