Mnr. De Graaff Genis van die plaas Brakkies by Kamieskroon sê voor 29 Augustus se 34 mm reën het hy net die helfte van sy langtermyngemiddelde reën gemeet, soos in twee van die vorige drie jaar.

“Dis so diep droog, alle water is weg. Die grond slurp alles op. Dit wat nog groen is, kan groei. Hierdie reën skuif die somer ’n maand verder. Dit help vir ons graan en die veld.”

Namakwaland beleef ’n besonder goeie blomjaar, maar Genis sê as die blomme weg is, is die werklikheid weer daar. Die droogte was net te lank en intens om deur een goeie reënvoorval beëindig te word.

Baie bosse het gevrek, veral in die gebiede wat minder reën kry. “Ons veld het reën en rus nodig.”

“Die 18 mm wat ons in die Hantam gekry het, is vreeslik baie werd,” sê mnr. Jaco Nel van die plaas Lekkeroog by Loeriesfontein. “Dit rek die opslag se lewe tot diep in September. Ons het vir die eerste keer in sewe jaar mooi veld op ons grond in die Hantam.”

Mnr. Hannes du Toit van die plaas Skuinskraal by Garies het 14 mm reën gekry, wat “bleddie baie” help. “Alles is nog fris, vars en groen. Ons is vir ’n slag op pad na ’n oes.”