Meer as 50 mm reën kan van 8 tot 14 Julie en in die laaste 10 dae van Julie oor die Swartland en aangrensende dele voorkom. Voorspellings dui ook op reën oor die Suid-Kaap, hoewel dit minder kan wees as wat oor die Swartland verwag word.

Dié neerslae, saam met die neerslae van die eerste paar dae van Julie, kan bydra daartoe dat bogemiddelde reën die maand oor die dele van die winterreënstreek voorkom.

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die kans op stormagtige weerstoestande bly goed oor die hele Wes-Kaap, asook oor die kusgebiede van die Oos-Kaap in die volgende maande. 

In die komende weke word lae minimum temperature oor veral die suidelike en suidoostelike dele van die binneland, tot so ver as die Suid-Kaap, verwag. Dié temperature kan oor die binneland onder vriespunt gaan draai.

Sneeu

Wat sneeuval betref, het die vroeëre voorspellings van sneeu nie gerealiseer nie, veral oor die Oos-Kaap waar sneeu slegs by enkele geleenthede voorgekom het. “Een van die moontlike redes is die teenwoordigheid van warmer water in die Atlantiese Oseaan wat goeie reënvaltoestande skep oor die Wes-Kaap, maar lugtemperature dalk effens kan verhoog en sneeu beperk.”

Van den Berg sê noemenswaardige sneeu word nie op kort termyn voorspel nie, maar daar is steeds ’n goeie kans dat sneeu tot middel Augustus kan voorkom.

Damvlakke

Intussen het die swaar reënneerslae van die afgelope paar dae damvlakke in die Wes-Kaap sterk aangevul, met die Clanwilliamdam se vlak wat binne ’n week van 23,6% tot 74% verhoog het.

Die Wes-Kaap se damvlakke het oor die algemeen van 55% tot 67,8% verhoog, terwyl die damme wat water aan die Kaapstadse metropool verskaf, nou 90% vol is. Dié damme was in die ooreenstemmende tyd verlede jaar 63% vol.

Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê luidens ’n verklaring die Theewaterskloofdam is vandeesweek 97,5% vol en die Bergrivierdam 101%. Die damvlakke in die Gouritzsrivier-opvangsgebied is steeds kritiek laag op net 24%.

Volgens Van den Berg is meer as 200 mm die afgelope week in die distrik Ceres gemeet, met neerslae van 120 mm, 110 mm en 90 mm by onderskeidelik Villiersdorp, die Paarl en Malmesbury. Goeie reën het teen die Weskus en aangrensende binneland voorgekom met Nieuwoudtville wat 26 mm gemeet het, Sutherland 24 mm en Springbok 20 mm. Minder reën het oor die Rûens en Suid-Kaap voorgekom.

Produksietoestande

Produksietoestande is tans baie gunstig vir die grootste deel van die Wes-Kaap se wintergraangebiede, met veral die Swartland wat die afgelope tyd goeie grondwateraanvullings gekry het.

Van den Berg sê baie reën in veral Julie is dikwels nie gunstig vir die finale wintergraanoes nie, want dit veroorsaak hoë waterverbruik later in die seisoen. Neerslae in veral September is dan belangrik.

Gegrond op die reënval sedert 1980 is daar egter ’n goeie kans op reën later in die seisoen. Malmesbury het vanaf 1980 vir tien jaar gedurende Julie bogemiddelde reënval gehad. Vir sewe van dié tien jare is bogemiddelde reënval of goeie neerslae in Augustus gemeet, terwyl daar in ses van die tien jare bogemiddelde reënval in September gemeet is. Langtermynneigings is dus relatief gunstig vir die res van Julie, Augustus en September vir die Swartland, en dit lyk ook gunstig vanaf veral die laaste deel van Augustus oor die Rûens en die Suid-Kaap.