Swaar reën gaan volgens voorspellings van middel Julie tot begin Augustus oor die gebiede voorkom.

“Minder reën word verwag oor die Suid-Kaap vir die grootste deel van Julie, hoewel ligte reën kan voorkom rondom 16 en 17 Julie. Reënvalvooruitsigte hier is egter goed in die laaste week van Julie en eerste deel van Augustus,” sê mnr. Johan van der Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Hy sê daar is egter steeds dele van die winterreëngebied in die Tuinroete en Langkloof wat afgesien van enkele swaar reënbuie vroeër in Mei, steeds droë toestande ervaar. Die watersituasie vir besproeiing in gebiede soos Bonnievale, Oudtshoorn en Joubertinia is steeds swak. Reën word ook vir dié gebiede in Julie en Augustus voorspel, hoewel die kans op reën ál skraler word namate van die Suid-Kaap af ooswaarts beweeg word.

Sedert die naweek het dele van die Wes-Kaap goeie neerslae aangeteken, met dele wat al tot 50 mm gemeet het. Die eerste koue front wat oor die land beweeg het, het Sondag baie lae minimum temperature oor dele veroorsaak. Bothaville en Koppies in die Vrystaat het minimum temperature van -6,5 °C gemeet. 

Van den Berg sê dit is interessant dat die huidige winterreënpatroon in die Wes-Kaap redelik ooreenstem met die 2020-seisoen. Redelike swaar reën het voorgekom teen einde Mei en toe ook weer teen einde Junie met droër tydperke tussen-in. Die meeste reën het aanvanklik voorgekom oor die suidwestelike dele met minder reën oor die Suid-Kaap. Later in die seisoen het die reën ooswaarts beweeg.

Produksietoestande

Die Oos-Kaap bly die brandpunt vir baie droë toestande met baie damme wat leeg is of vinnig leegloop. Boere in die Langkloof en verder noord het nie water vir hul gewasse, soos veral sitrus, nie en groot permanente skade kan in die volgende maand of twee voorkom waar bome kan vrek.

“Ligte reën het oor suidwestelike gedeeltes van die Karoo voorgekom in die distrikte Sutherland en Williston, maar die droogte duur voort,” sê Van den Berg. “Baie min of geen reën word verwag vir die volgende twee tot drie maande oor die somerreëngebied nie.”

Die gevaar van wegholveldbrande is groot in die komende maande namate koue fronte oor die land beweeg en baie winderige toestande veroorsaak.

Volgens voorspellings gaan minimum temperature in Julie gereeld tot onder vriespunt daal. Van den Berg sê dit sal nie raadsaam wees om voor middel Augustus kleinvee soos skape en bokke te skeer nie. 

Sneeu is moontlik oor die Drakensberge en aangrensende dele gedurende Julie en Augustus, wat uiters gevaarlike toestande vir kleinveeboere kan skep. Dit lyk veral in die tweede week van Julie asof sneeu en ysreën moontlik is oor die noordelike dele van die Oos-Kaap.

Boere in die Vrystaat wat dit oorweeg om droëlandkoring aan te plant, moet kennis neem daarvan dat die seisoen baie riskant kan wees vir koringverbouing. Hoewel daar heelwat opgegaarde grondwater is van die vorige seisoen, is die kans op lentereën – wat noodsaaklik is vir ’n goeie oes – ondergemiddeld.

“Met die bogrond wat uitgedroog het, gaan sekondêre wortelontwikkeling ook nie na wens plaasvind nie en dit kan die opbrengs verder verlaag,” sê Van den Berg. “Ander risiko’s is vinke, laatryp en reën gedurende oestyd. Tans lyk toestande vir droëlandkoringproduksie minder rooskleurig as dié van somergewasse soos mielies en sojabone in die komende somer.”