“Reën kan verwag word tot ten minste middel September. In die laaste week van Augustus en eerste week van September kan meer as 30 mm voorkom oor die Swartland, met ietwat minder reën oor die Suid-Kaap,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Wat vanjaar gunstig is, is dat die doeltreffendheid van reënval goed is vanweë die lae temperature en min verdamping wat gevolglik plaasvind.”

Die afgelope week het reën oor die Wes-Kaap voorgekom, asook oor gedeeltes van die Oos- en Noord-Kaap. Die meeste reën het oor die Kaapse metropool geval, met 60 mm wat by Kirstenbosch aangeteken is. Goeie neerslae het ook voorgekom in Ceres (meer as 50 mm), die Paarl (35 mm), Jonkershoek (35 mm) en Malmesbury (10 mm). By Swellendam in die Suid-Kaap het 5 mm geval, terwyl 15 mm by Mosselbaai gemeet is. Meer as 30 mm het voorgekom by Stormsrivier in die Oos-Kaap en 12 mm by Tsitsikamma. Nieuwoudtville in die Noord-Kaap het sowat 10 mm gehad.

Droogtetoestande bly egter voortduur oor gedeeltes van die Oos-Kaap, noordoostelike dele van Limpopo en die sentrale tot noordwestelike dele van die Noord-Kaap. Groter damme rondom onder meer Tzaneen en Port Elizabeth se vlakke is baie laag.

Koue, ryp

Intussen bly temperature laag met baie swaar ryp wat oor die sentrale tot suidelike binneland voorkom. In die ses weke van begin Julie tot middel Augustus het Bothaville in die Vrystaat net sewe nagte gehad waar die minimum temperatuur nie tot onder vriespunt gedaal het nie.

“Tot op hede is dit een van die koudste winters in ten minste die afgelope twee dekades, dalk selfs drie,” sê Van den Berg. Hy het vroeër aan Landbouweekblad gesê die gemiddelde minimum temperatuur vir Julie vir Bothaville was vanjaar -2,65 °C teenoor die gemiddelde van -0,4 °C vir dié maand die afgelope 20 jaar.

In die somerreëngebied gaan minimum temperature benede vriespunt tot ten minste die tweede week in September voorkom. “Vanaf middel September behoort temperature redelik vinnig te verander en heelwat warmer te word,” sê Van den Berg.

Die risiko vir rypskade op veral koring in die somerreënstreek is vanjaar nie groot nie, aangesien die plante deurgaans aan koue toestande blootgestel was, wat groei vertraag het. “Die risiko vir rypskade is gewoonlik groot wanneer warm toestande heers en dan onderbreek word deur koue tydperke met ryp,” sê Van den Berg.