Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor in Port Elizabeth toon reënvalsyfers vir 2020 dat die noordoostelike en oostelike sentrale dele goeie reën ontvang het, met die kusgedeeltes wat nie so goed gevaar het nie, en die res van die provinsie wat droog was.

In 2021 het slegs die noordoostelike deel van die provinsie gunstige en bonormale reën tot dusver gemeet.

“Die res van die provinsie het treurige reënvaltotale en bring die provinsie se gemiddelde teen Mei 2021 af na ’n skokkende 60% van normaal.” 

Ver ondergemiddeld

Dorpe in die oostelike deel van die provinsie het van Januarie tot Mei ver onder die gemiddelde reënval gemeet. In Oos-Londen is 108 mm minder as die gemiddelde van 370 mm vir die tydperk gemeet, met Port Alfred wat slegs 92 mm van die gemiddelde 246 mm gemeet het, en Makhanda slegs 168 mm van die gemiddelde 220 mm.

In die noordwestelike deel van die provinsie het Graaff Reinet slegs 102 mm van die gemiddelde 166 mm gemeet en Middleton 109 mm teenoor die normale 186 mm.

In die westelike dele het Patensie slegs 105 mm van die normale 199 mm gemeet, met Addo wat slegs 90 mm teenoor die gewone 197 mm gemeet het. 

Vooruitsigte

Die weerdiens se vooruitskattings dui op ondergemiddelde reënval oor die suidelike kusgedeeltes gedurende die laat winter (Julie tot September), teenoor bogemiddelde reën wat vir die res van Suid-Afrika voorspel word. Die vooruitsigte vir later vanjaar lyk nog minder rooskleurig.

“Ondergemiddelde reënval word oor die Oos-Kaapse areas gedurende vroeg en middel lente verwag, wat tot groot kommer lei inaggenome die voortslepende droogte in die provinsie.”

Geen beduidende reënval word in die opvangsgebied van die Kougadam, wat water aan die Gamtoosvallei en die Nelson Mandelabaaimetropool verskaf, verwag nie. Die gemiddelde damvlakke vir damme wat water aan die metropool verskaf, het einde Junie op ’n skamele 10.93% gestaan.

Warmer dag- en nagtemperature word van Junie tot November verwag.

Rampverklaring

Mnr. Retief Odendaal, Oos-Kaapse DA-LUR, het ook in ’n verklaring gesê hy is verheug oor die aankondiging van mnr. Oscar Mabuyane, die Oos-Kaapse premier, dat die provinsiale sentrum vir rampbestuur ’n aansoek by die nasionale sentrum vir rampbestuur sal indien om die Nelson Mandelabaai- en Sarah Baartman-distriksmunisipaliteite tot droogterampgebiede te verklaar.

Mabuyane het die aankondiging gemaak in antwoord op formele vrae wat die DA aan hom gerig het.

Die provinsie is in Oktober 2019 laas as droogterampgebied verklaar, met geen verligting tot nou in droogtetoestande in dele wat tans steeds onder die droogte gebuk gaan nie.