Weidings is meestal uitstekend, maar die nat toestande veroorsaak probleme vir die graan.

Mnr. Hume Schönfeldt wat by Caledon boer, sê dit is die natste wat dit nog vanjaar was. “Ons is ver agter met die kunsmisstrooiery. Die onkruid en siektes kan ook amper ’n probleem begin raak.”

Hulle het net een spuit en die een wat hulle bestel het, is in die Durbanhawe. Hy weet nie wanneer hulle dit gaan kry nie. Gelukkig lyk hul dekgewasse vanjaar baie goed. “Ons het ’n mooi verskeidenheid en ek dink die kuilvoer gaan goeie tonne oplewer. Ons vroeë graan lyk nie baie goed nie. Baie het versuip en ons het taamlik slakskade.”

By hulle is dit baie nat, sê mnr. Leon Groenewald van die plaas Rietvlei by Rietpoel. “Té nat, maar ons is geseënd. Die weidings is mooi, maar die graan kry swaar. Die wortels is baie nat.”

“Dit lyk mooi, ek het lanklaas dié wêreld so gesien,” sê mnr. Lourens van Eeden van Heidelberg.

Hy het vanjaar in Maart hawer op stoppellande aangeplant sodat die skape dit kan bewei en dit later ook geoes kan word. Ná ’n interessante sameloop van reën, droë tye, misweer en ’n ongewone bergwind het die hawer só gegroei dat hy dit kon sny en kuilvoer maak. Nou staan die hawer op daardie land “alweer vir ’n groot oes”.

Die Swartland en winterreëngebied van Namakwaland wat ’n droë Junie beleef het, het sedertdien goed reën gekry. Mnr. Abri Richter wat by Piketberg boer, sê dit gaan goed. Hulle het goed reën gekry en die koring, medics en soetlupiene groei mooi.