Die 2017/18 Cars.co.za-verbruikerseerbewyse vir 2017-’18 is tydens ‘n luisterryke geleentheid by The Galleria in Sandton, Johannesburg, aan 13 kategoriewenners toegeken. Die eerbewys vir die Handelsmerk van die Jaar is ook oorhandig. Altesaam 20 motorhandelsname is in die verskillende kategorieë verteenwoordig, met drie finaliste per kategorie. Die Volkswagengroep het tien benoemings gehad (Audi en Volkswagen is elk vyf keer benoem), gevolg deur die BMW-groep met vier benoemings. Alfa Romeo, Kia, Mitsubishi, Peugeot en Subaru is almal die eerste keer benoem.

Die wenners is bepaal deur middel van ‘n kombinasie van openbare deelname, met die eienaarstevredenheidsopname van Cars.co.za wat 50% van die finale telling uitgemaak het, en ’n panel van 18 beoordelaars wat die benoemde voertuie gedurende verskeie toetsritte by die Gerotek, die militêre voertuigtoetsterrein buite Pretoria, beoordeel het. Die eerbewys vir die Handelsmerk van die Jaar is uitsluitlik op grond van die eienaarstevredenheidsopname toegeken.

Die verskillende finaliste in die onderskeie kategorieë was:

·         Bekostigbare motor (tot R175 000): Suzuki Ignis 1.2 GL (wenner), Kia Picanto 1.0 Style, VW Take Up!.

·         Kompakte luikrug (van R175 000 tot R250 000): Mazda2 1.5 Individual (wenner), Renault Clio 66 kW Turbo Dynamique, Toyota Yaris 1.5 Pulse.

·         Luukse luikrug (van R350 000 tot R500 000): Audi A3 Sportback 2.0T FSI S-Tronic, Volkswagen Golf 1.4 TSI Comfortline R-Line (wenner), Subaru XV 2.0i-S ES.

·         Besigheidsklas (van R500 000 tot R700 000): Audi A5 Sportback 2.0T FSI Sport S-Tronic, BMW 420d Gran Coupe Sport Line sports-auto (wenner), Alfa Romeo Giulia 2.0T Super.

·         Uitvoerende sedan (van R700 000 tot R1 miljoen): Mercedes-Benz E350d (wenner), BMW 530d Luxury Line, Volvo S90 D5 R-Design.

·         Uitvoerende sportsnutsvoertuig (van R600 000 tot R900 000): Audi Q5 2.0 TDI Quattro Sport, Jaguar F-Pace 20d AWD R Sport, Mercedes-Benz GLC250d 4Matic AMG Line (wenner).

·         Luukse sportnutsvoertuig (van R900 000 tot R1,25 miljoen): Volvo XC90 T8 Twin Engine R-Design (wenner), Audi Q7 3.0 TDI Quattro, Land Rover Discovery HSE TD6.

·         Avontuur-sportnutsvoertuig (van R550 000 tot R800 000): Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4x4 Auto (wenner), Ford Everest 3.2 LTD, Mitsubishi Pajero Sport 2.4 D4.

·         Kompakte gesinsmotor (van R250 000 tot R350 000): Suzuki Vitara 1.6 GLX Auto (wenner), Hyundai Creta 1.6 Exec Auto, Renault Captur dCi Dynamique.

·         Gesinsmotor (van R350 000 tot R500 000): Volkswagen Tiguan 1.4 TSI Comfortline R-Line DSG, Peugeot 3008 1.6T GT-Line, Mazda CX-5 2.5 Individual (wenner).

·         Sportmotors (van R600 000 tot R1 miljoen): BMW M2 M-DCT (wenner), Volkswagen Golf R, Audi RS3 sedan

·         Pretmotors (onder R600 000): Mini JCW sports-auto (wenner), Renault Clio RS220 Trophy, Mazda MX-5.

·         Dubbelkajuitbakkies (bo R500 000): Nissan Navara 2.3D 4x4 LE Auto, Ford Ranger 3.2 Wildtrak 4x4 Auto, Volkswagen Amarok V6 TDI 4Motion Highline Plus (wenner).

Naverkopediens 'n belangrike element

Mnr. Hannes Oosthuizen, verbruikerservaringsbestuurder by Cars.co.za, sê naverkopediens is een van die belangrikste elemente wat die verskil gemaak het tussen die wenners. “Met 50% van ’n voertuig se finale telling wat berus het op die vervaardiger se prestasie in die tevredenheidsopname, sou ’n voertuig slegs ’n goeie kans gestaan het om te wen as dit ’n goeie produk is volgens die beoordelaars en as die vervaardiger uitstekende naverkopediens bied,” het hy gesê.

Die Japanese motorvervaardiger Suzuki is aangewys as die Handelsmerk van die Jaar. Suzuki het Mercedes-Benz met 1 persentasiepunt geklop om die gesogte titel, sy tweede in twee jaar. Die top-10 lys van motorvervaardigers volgens die opname was: Suzuki (78,2%), Mercedes-Benz (77,2%), Mazda (74,7%), Volkswagen (74%), BMW/Mini (73,4%), Kia (72,8%), Audi (72%), Toyota/Lexus (72%), Nissan (71,4%), Mahindra (71,4%).

“Die eerbewys vir Handelsmerk van die Jaar is een van die hoogste eerbewyse in die Suid-Afrikaanse voertuigbedryf. Dit verteenwoordig die bevestiging van diegene wat die meeste beteken vir ’n vervaardiger, naamlik die voertuigeienaars. Suzuki het nie net ’n indrukwekkende groei in markaandeel oor die afgelope 12 maande getoon nie, maar steeds ook uitstekende diensvlakke gehandhaaf,” het Oosthuizen gesê.

Vanjaar was die derde jaar dat Cars.co.za die eerbewyse toegeken het. Slegs Toyota en Suzuki was tot dusver wenners in die Handelsmerk van die Jaar-kategorie.