Met ’n uiters gemaklike binneruim en ongeëwenaarde verrigting bied ’n V6-Amarok iets waarby Hilux en Ranger se viersilinder-dieselbakkies nie kan kers vashou nie.

Om belangstelling in sy V6-enjin te behou, stel VW in die laaste kwartaal vanjaar die Amarok Canyon aan Suid-Afrikaanse kopers beskikbaar. Die ontwerp van hierdie nuwe weergawe van die Amarok spog met byderwetse opknappings.

Die Canyon is gemik op die Amarok-eienaar wat in die veld, maar ook gemaklik op grondpaaie wil ry. Die Canyon het daarom 17 duim-wiele pleks van die 19 duim-wiele op die meeste ander Amarok-bakkies.

Danksy die kleiner wieldeursnit het die Canyon meer plek in die wielboë, wat ’n beter ritgehalte op sinkplaatpaaie verseker. Die groter lugvolume gee ook ’n groter loopvlak wanneer banddruk verminder moet word om duine baas te raak. Ander kenmerke wat die Canyon van ander Amarok-bakkies onderskei, is ’n swart sierrooster met chroomafwerking en ’n swart rolstaaf in die laaibak.

Binne is daar ’n klankstelsel met ses luidsprekers en outomatiese klimaatbeheer, terwyl die sitplekke se bekleedsel oranje stiksels het. Vir Karooboere of diegene wat maklik koud kry, bied VW vir R5 044 ekstra verhitte voorsitplekke en verwarming vir die voorruitwassers – twee geriefies wat verseker op ’n snerpende wintersoggend van groot waarde sal wees

Van die Canyon se standaardtoerusting sluit in bi-xenonkopligte, parkeerbeheersensors voor en agter (met ’n truratkamera) en vier lugsakke. Aandrywing geskied deur ZF se bekroonde, outomatiese agtgangratkas en al het die Canyon vierwieltrek, is daar geen laestrekratte nie. VW bied wel veldryhulp soos elektroniese kloubeheer en ’n ewenaarslot op die agteras.

Met die V6-dieselenjin wat 165 kW en 550 N.m lewer, het die Canyon geen werklike mededingers nie. Mercedes-Benz se X350d bied dalk ’n kriesel meer krag, maar is R175 000 duurder.

VW het bevestig dat die Amarok Canyon vroeg in Oktober teen R799 000 by plaaslike handelaars beskikbaar sal wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.