Om sy markaandeel en teenwoordigheid in die plaaslike bakkiemark verder te verskans, het Volkswagen nou ’n sterker weergawe van die gewilde Amarok V6 bekend gestel.

Dit is geen geheim dat die meeste van die verkope van Amarok se dubbelkajuitbakkie deur die groter sessilinderenjin aangedryf word nie. Waar Amarok-eienaars jare gelede oor hul bakkies se klein 2 liter-enjin gespot is, lag die Volkswagen-dubbelkajuitmanne sedert 2017 die lekkerste. Dis die jaar toe daardie 3 liter-V6-turbodiesel plaaslik beskikbaar geword het.

Wat hierdie jongste verbetering aan die Amarok-reeks betref, word Volkswagen se 3 liter-V6 die kragtigste dieselenjin wat ooit in ’n Suid-Afrikaanse bakkie-modelreeks aangebied is.

Enigiemand wat ’n Amarok V6 al self bestuur of as ’n passasier in een gery het, sal erken dat geen ander dieselbakkie dieselfde sleepkrag of verbysteekvermoë teen ’n hoë snelheid het nie. Met 165 kW en 550 Nm troon die 3 liter-Amarok maklik uit bo die Hilux en Ranger ten opsigte van kraglewering. Tog gaan Volkswagen se ingenieurs blykbaar nooit op vakansie nie . . .

Vindingryke navorsing en verstelling van die turboaanjaer laat die 3 liter-V6-kragbron nou 190 kW opwek. En dit is nie die volle verrigtingsverhaal nie. As jy die versneller platgetrap hou om byvoorbeeld swaar voertuie verby te steek of ’n lang duin in die Namib te klim, is 200 kW en 580 Nm wringkrag vir 20 sekondes beskikbaar.

Daar is nie ’n ander dubbelkajuitbakkie op die plaaslike mark wat kan kers vashou by Amarok se V6-turbodieselenjin nie. Dit maak Amarok ’n uitstekende langpadtoervoertuig met gedugte sleepvermoë.

Toe Audi oorspronklik hierdie 3 liter-V6-turbodiesel in 2004 ontwikkel het – vir die destydse tweedegeslag-A8 – kon sy ingenieurs nooit droom dat dit uiteindelik diens sou doen in ’n Volkswagenbakkie nie.

Om die nuwe Amarok V6 met blitsversnelling te besit, is nie goedkoop nie. Volkswagen se prysstruktuur bied twee Amarok V6-opsies met die Highline wat R908 300 en die Extreme wat R974 600 kos.