Ford se Ranger Raptor is een Suid-Afrika se gewildste bakkies vir ernstige verldryers.

Met reuse Fox-skokbrekers en baie meer grondvryhoogte as ’n gewone Ranger 4x4 het die Raptor meer vermoë as wat die meeste eienaars ooit die moed sal hê om te gebruik.

Een van die bakkie se kenmerkendste onderdele is daardie reuse- BF Goodrich-bande. Ford het nou saamgewerk met BF Goodrich om die 285/70 R17-bande vir die Ranger Raptor te ontwikkel en in strawwe veldrytoestande is hulle uitstekend. Met al die voordele van Ranger Raptor se BF Goodrich-bande is daar ook nadele. Teen hoë snelhede op teerpaaie wek hierdie bande baie padgeraas op.

Ford Suid-Afrika het nou in ’n verrassende aankondiging bekend gemaak dat plaaslike Ranger Raptor-bakkies nie meer met die BF Goodrich-bande gelewer word nie, maar met Continental se Grabber AT3. Hierdie Duitse band het dieselfde afmetings (285/70 R17), maar ’n effens minder aggressiewe loopoppervalk. Die sywand is ook kleiner.

Die ooglopende rede vir die verandering is dat Continental ’n vervaardigingsaanleg in Port Elizabeth het. Dit beteken dat Grabber AT3-bande sonder ontwrigting aan Ford se fabriek in Silverton, Pretoria, gelewer kan word.

Onderbrekings in die wêreldwye verskaffingsketting vir voertuigonderdele is besig om verskeie vervaardigers se sake en planne te ontspoor. Ford kan nie die kans waag dat Ranger Raptor-bakkies feitlik heeltemal voltooi word en dan moet wag vir ingevoerde bande wat nie beskikbaar is nie.

Suid-Afrika se gesonde verskaffingsketting en vervaardigingsvermoë het Ford oortuig om van BF Goodrich na Continental te verander.

Een van die byvoordele van hierdie samewerking tussen Ford en Continental is dat eienaars van 4x4-bakkies wat na ’n geharde veldryband soek, nou ook die 285/70 R17 Grabber AT3 onafhanklik sal kan aankoop.

In ’n mark waar daar min verskeidenheid is vir vet veldrybande wat op 17 duim-wiele pas, is die nuwe Grabber AT3 baie welkom.