Mercedes-Benz SA se nuwe streekdienssentrum in Pretoria is voortaan verantwoordlik vir die verkope en instandhouding van Mercedes-Benz- en Fuso-vragmotors en busse, Freightliner- en Western Star-vragmotors asook Mecedes-Benz-paneelwaens in suidelike Afrika.

Altesame nege kommersiële voertuigmarkte, naamlik dié in Botswana, Lesotho, Namibië, Malawi, Mosambiek, Suid-Afrika, Swaziland, Zambië ën Zimbabwe sal deur die nuwe sentrum bedien word.

Dr. Wolfgang Bernhard, lid van die bestuursraad van Daimler AG, sê die nuwe streeksentrum beloof ’n flinker reaksietyd èn ondersteuning aan kliënte. “Dit sal help om die groeiende potensiaal van die hierdie ontluikende streek te ontsluit,” sê hy.

Volgens mnr. Kobus van Zyl, die uitvoerende hoof van Daimler Trucks & Buses SA, bring die maatskappy se sterker teenwoordigheid in suidelike Afrika ook groter geleenthede vir bemarking, kliëntediens, verkope, instandhouding, en die verkope van onderdele.

Suidelike Afrika is ’n geografiese streek wat met ’n verwagte groeikoers van 3,7% in 2016 ’n taai ekonomiese siklus in die gesig staar. Verbeterde eksterne vooruitsigte en plaaslike beleidsverbetering behoort toekomstige groei te ondersteun tot ’n geskatte streeksgoeikoers van tot en selfs meer as 4,5% jaarliks gedurende 2018 tot 2020.

Suidelike Afrika beskik oor groot natuurlike reserwes soos koper, olie en gas wat nog baie langtermyn-potensiaal bied, sê Van Zyl.

• Dié nuwe streeksentrum vir suidelike Afrika is die sesde van sy soort wat die maatskappy wêreldwyd in ’n desentraliseringsproses gevestig het.