Met kort afmetings kan ’n Jimny ry waar groter voertuie sukkel om hul bakwerk in een stuk te hou. In die geheel beskou is die Jimny se enigste tekortkoming die gebrek aan ’n bakkieweergawe. Suzuki het jare terug, van 1982 tot 1985, SJ 430-enkelkajuitbakkies gebou. As jy ’n hedendaagse Jimny met ’n laaibak begeer, is daar nou ’n oplossing.

Brittanje het ’n veel kleiner bakkiemark as Suid-Afrika. Dit het David Johnson, van Shropshire Quads, egter nie gekeer om enkelkajuit-ombouings van die Suzuki Jimny te begin doen nie.

In sy werkwinkel in Shopshire sny en pas Johnson die bakwerk van Suzuki se vierdegeslag-Jimny om ’n treffende bakkieweergawe aan klante te bied. Johnson se kopers is oor die algemeen boere op die Britse platteland, waar nou boomlanings en modderige toestande ’n klein bakkie met baie klouvermoë vereis.

Dekades lank was Land Rover se 110- en 127/130-Defender-bakkies die aangewese oplossing as plaasvoertuig vir Britse boere. Die meeste plase in Brittanje is klein, met modderige toestande. Derhalwe het boere bewus geword van onnodige voertuigskade aan hul weiding en saaigrond. ’n Swaar Defender-bakkie trap hard oor die Britse veld.

Suzuki se Jimny-enkelkajuit is die antwoord vir boere wat ’n geharde plaasbakkie soek, met goeie veldryvermoë en laer druk op die grondoppervlak. Johnson se enkelkajuit-ombouings bied ’n klein aluminium-en-staallaaibak, asook ’n agterruit wat toewaseming teenwerk met hitte-elemente. Gaas- of buisraambeskerming kan oor die agterruit geheg word om te keer dat ’n laaibak se vrag die kajuit beskadig in noodremtoestande.

Verskeie seil- of aluminiumkappies word aangebied, maar dit is hierdie Jimny-bakkies se band- en vering-keuses wat werklik beïndruk. Johnson se werkwinkel kan die Jimny se rithoogte opwaarts aanpas met 25 mm tot 75 mm, wat die klein Suzuki se allemintige veldryvermoë verder verbeter.

Teen Johnson se hoogste verstelling is daar oorgenoeg ruimte in die wielkaste vir klein trekkerbande wat sagkuns met waardevolle grondoppervlakke werk. Diegene wat nog meer vastrapvermoë soek, kan ’n dubbelwiel-ombouing op die agteras kry.

Johnson bemark sy Jimny-ombouings vir ’n beginprys van R150 000, en al lyk sy enkelkajuitvoertuie oulik met hul kort afmetings, is die hoofdoel ernstige plaaswerk.