Nissan Patrol 5.6 V8 LE Premium

Om te sê Nissan se Patrol is beter as die ikoniese Land Cruiser, is vir baie mense gelyk aan die agtste doodsonde. Maar sê nou dis waar? Hoe verskil die twee op papier? Die Cruiser 200 drink diesel, waar die Patrol petrol gebruik. Voorspel dit ’n gruwelike brandstofrekening vir die Nissan, teenoor die Toyota?

Wel, hulle is albei aan die dors kant. Toyota sê die Cruiser verbruik 10,2 liter/100 km. Volgens Nissan verbrand die Patrol ’n woeste 14,4 liter/100 km en “wen” dus loshande. Die Patrol moet egter net elke 15 000 km vir ’n diens gaan, teenoor die Cruiser se 10 000 km.

Die Toyota het tien lugsakke teenoor die Patrol se ses, maar die Nissan kap terug met ’n rithoogte van 272 mm teenoor die Cruiser se 230 mm. Jy kan so ’n vergelyking lank uitrek, maar die uiteindelike gevolgtrekking is dat albei uitblink, maar in verskillende kategorieë.

Hoe is dit dan om met die Patrol saam te leef? Sy 5,6 liter-enjin is ’n monster en hy reageer dadelik as jy aan die petrolpedaal raak. Dit laat ’n mens op elke grondpad soos ’n Dakar-kampioen voel. Daar is egter ontsettend baie speling op die stuur. Dit werk goed vir tegniese 4x4-roetes, maar kan senutergend wees op die oop pad.

Sy ritgehalte op swak paaie is goed, hoewel dit soms stamperig gaan omdat die Patrol ’n leerraamonderstel het, nes ’n eentonbakkie.

Om hom weer vir ’n oomblik met die Toyota te vergelyk: Die agteras van die Cruiser 200 (en FJ Cruiser) spring soms ’n bietjie rond op ’n ongelyke grondpad, iets wat ek nooit by die Patrol opgemerk het nie. Teen 90 km/h op ’n sinkplaatpad wil ek veel eerder in die Patrol wees as in ’n Cruiser . . .

Een van die Patrol se beste kenmerke is sy enorme kajuit. Dié Nissan is een van die min 4x4’s wat sewe volwassenes in gerief kan vervoer, en dis maklik om by die twee heel agterste sitplekke uit te kom. Nog ’n lekker eienskap van die Patrol is die gevoel van onstuitbaarheid wat hy ’n mens gee.

Dis hoe dit moet voel om saam met Eben Etzebeth, Bakkies Botha en Kobus Wiese by ’n kroeg aan die Oosrand op te daag. Jy voel onvernietigbaar. Ongelukkig kos die Patrol heelwat meer as ’n dubbel-cappuccino by Wiesenhof of ’n rum en Coke – ook bekend as ’n Boksburg-cappuccino.

Die slotsom: Ons gaan nie sê die Patrol is ’n beter ryding as die Cruiser nie, maar hy verdien ten minste ’n toetsrit. Ten minste . . .

Prys: R 1 353 500.

Ford Kuga 2.0 TDCi Titanium 6AT AWD

Praat van die Ford Kuga en dis gewaarborg dat iemand oor die brandgevaar van die 1,6 liter-petrolenjin begin spot. Maar dis ernstige sake. Plaaslik het sowat 40 Kugas vlam gevat en ’n man het só gesterf. Ford SA het eienaars van die 1,6-model versoek om vir voorkomende herstelwerk te kom, maar ’n ingenieur met binnekennis het steeds sy bedenkinge oor dié enjin.

In die nuwe Kuga-modelreeks wat Ford invoer, sal jy egter geen 1,6 liter-enjin aantref nie. Daar’s ’n 1.5T, ’n 2.0T en ’n 2.0-turbodiesel, met laasgenoemde die onderwerp van dié ritverslag. Dié viersilinder-diesel loop so stil soos ’n muis en daar’s niks van ’n diesel se kenmerkende vibrasie te bespeur nie.

Die enjin is aan ’n outokas gekoppel wat sy ses ratte vorentoe seepglad wissel en krag na ál vier wiele kan herlei. Agter die stuur is daar hefbome waarmee ’n mens self ratte kan wissel. Dis nuttig as die bestuurder ’n laer rat wil kies om die motor se snelheid te beperk sonder om slegs op die remme staat te maak.

Motorgeesdriftiges sal die Titanium-variant se treffende allooiwiele herken van Ford se verrigtingsmotors is, soos die Focus ST. Nou wat soek dit dan op ’n veldvoertuig, wil ’n mens vra, veral nadat jy op ’n sinkplaatpad rondgeskud is? Kleiner wiele met ’n hoër bandprofiel sal die Kuga beter pas.

Die Kuga kry ook ’n strafskop teen hom vir die binneruim se gehalte. Dit lyk en voel nie soos ’n ryding van ’n halfmiljoen rand nie. As ’n Isuzu-bakkie se paneelbord jou maatstaf is, sal dit nie pla nie, maar dit steek af by dié van die Volkswagen Tiguan en die Mazda CX-5.

Verder is die knieruimte bra knap, maar die agtersitplekke se rugleunings vou darem heeltemal plat vir die vervoer van groot goed. Naas die enjin is die Kuga se beste toerusting die agterluik wat vanself elektries oopmaak as jy die sleutel in jou sak het en ’n skopbeweging onder die agterbuffer uitvoer.

Dis nie uniek aan die Kuga nie, maar bykans geen ander motor doen dit so getrou nie.

Prys: R516 600.

Mahindra Pik Up 2.2CRDe 4x4-dubbelkajuit

Mahindra en sy bakkies is al ou bekendes in Suid-Afrika. Trouens, die maatskappy doen al langer as 13 jaar lank hier sake en verkoop sowat 300 bakkies per maand. Onder hulle tel die Scorpio Pik Up, wat Mahindra deesdae net Pik Up noem. Noudat die Pik Up opgeknap en hersien is, is die enjin kragtiger.

Hy behou sy goeie eienskappe: Hy loop stil en werk suinig met diesel. Die handratkas (ses ratte vorentoe) skuif lig en maklik. Die bakkie se snoet is nou aansienlik mooier en die binneruim is ook verbeter. Diegene wat graag na musiek luister, gaan dol wees oor die twee luidsprekers wat bo kophoogte agter in die bakkie sit.

Dié twee en die ander luidsprekers is deel van ’n netjiese inligting-en-vermaakstelsel met puik klank. Met die week lange toetsrit het die bakkie hom onberispelik gedra, behalwe een keer in ’n draai op ’n sopnat pad toe die veldrybande vir ’n oomblik die teer laat los het. Noem dit maar ’n bestuursfout.

’n Kollega het later laat weet dat daar foute opgeduik het met die sitplekgordel se waarskuwingsfunksie (dit het heeltyd geskree) en dat die voorste passasier se venster nie dig wou toemaak nie. Dit strook met wat ek al voorheen by Mahindra-eienaars gehoor het. Sommige sing lofsange en ander sweer “nooit weer nie”.

Maar ’n hoofstroombakkie met dieselfde spesifikasies kos maklik R100 000 meer. Vir só ’n korting kan ’n mens seker ’n kans waag. Laat weet gerus by e-pos justus.visagie@media24.com hoe jou Mahindra jou dien.

Prys: R357 995.

VW Tiguan Allspace 2.0 TSI 4Motion Comfortline

Volkswagen het onlangs sy gewilde Tiguan so ’n bietjie gerek sodat nog twee mense elk op ’n sitplekkie kan inpas. Die verkleinwoord is doelbewus, want die ekstra twee sitplekke is hoogstens vir kleuters geskik. As diegene agter die bestuurder hul bank vorentoe skuif om die agterbankers meer plek te gee, moet hulle soos sardiens sit.

Moet dus nie ’n kajuit verwag waarin jy ’n halwe rugbyspan kan inlaai en rondkarwei nie. In die Allspace se guns tel sy bagasiebak wat steeds van taamlik groot is, selfs met die derde ry sitplekke in gebruik. Maak laasgenoemde plat (dis maklik) en die kattebak is enorm.

Vou die tweede ry plat en die Tiguan verander byna in ’n woonwa. Die Allspace waarmee ons gery het, was met VW se R-Line-pakket toegerus. Dit behels onder meer laeprofielbande aan groot allooiwiele, wat hom ’n stadsjapie maak wat liefs verby die grondpaaie moet hou.

As jy gereeld ’n klomp mense moet karwei, koop liewer die uitnemende Hyundai H1-bussie, wat 10 mense met gemak inlaai. Die Tiguan Allspace is nie ’n swak poging nie, maar los die R-Line-pakket vir die Golf-brigade.

Prys: R523 800.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.