Wat bakkies betref, is Toyota se voorsprong nog groter.

Uit die 13 366 nuwe ligte handelsvoertuie wat in Oktober van die hand gesit is, was amper die helfte (6 640) uit Toyota se stal.

Hilux was oudergewoonte Suid-Afrika se gewildste voertuig en die hoeksteen van Toyota se verkoopsmomentum.

Met Toyota se aanleg in Durban wat volstoom werk, is in Oktober 4 377 Hilux-bakkies aan plaaslike kopers gelewer. Die naaste mededinger was Ford se Ranger, wat minder as die helfte van Hilux se verkope kon handhaaf, met ’n totaal van 1 806.

Ford se bakkie-uitvoer was veel groter as Toyota s’n. Die Amerikaners se Rosslyn-produksieaanleg het verlede maand 8 133 eenhede vir buitelandse kopers gebou. Al bied die swakker rand sterk winsmoontlikhede vir uitvoerders is Toyota steeds getrouer aan sy plaaslike kopers. Gevolglik is net 3 077 Hilux-bakkies vir uitvoer gebou.

Isuzu het die derde meeste bakkies verkoop met 1 372 D-Max bakkies wat van die hand gesit is.

In die mark vir suiwer dubbelkajuitbakkie-reekse was Volkswagen weer aan die voorspits met 187 van sy Amarok-weeldewaens wat verkoop is. Nissan het 151 Navaras verkoop en Mitsubishi slegs 32 Tritons.

Geharde veldryers, boere en mynbouspanne verkies steeds Toyota se Land Cruiser 70 bo enige ander bakkie. Toyota het in Oktober 231 van hierdie rateltaai bakkies verkoop, met Nissan wat nie ’n enkele Patrol-enkelkajuit kon verkwansel nie.

Toyota se veldry- en grondpadvriendelike gesinsvoertuig, die Fortuner, het in Oktober skoonskip gemaak met 1 018 eenhede wat verkoop is. Dit is ver voor Ford se Everest wat 194 eenhede verkoop het, terwyl Isuzu se M-UX 44 eenhede en Mitsubishi se Pajero Sport 40 verkoop het.

Benewens die onversadigbare vraag na Hilux-bakkies en Fortuners is daar nog ’n Toyota-voertuig wat in Oktober reuse-gewildheid gehandhaaf het: die Hi-Ace. Met ’n splinternuwe ontwerp, meer ruimte en ’n reeks verbeterings is die Hi-Ace ’n belangrike vervoermiddel vir die meeste Suid-Afrikaners wat nie ’n eie voertuig besit nie.

Kort- en langafstand-taxi-eienaars kan nie genoeg kry van Toyota se jongste Hi-Ace nie en daar is 1 738 van hierdie snoetbussies verkoop. Om ’n indruk te kry van hoe sterk Toyota staan in die plaaslike taxi-bedryf; Nissan kon slegs 116 eenhede van sy NV350-taxi verkoop.