Ná jare se goedkoop bakkies wat swaar getrek het onder strawwe plaasgebruik, is daar nou ’n reeks Chinese enkel- en dubbelkajuitbakkies wat met Hilux en Ranger kan meeding.

Die Chinese vervaardiger Great Wall Motors (GWM) het besef Suid-Afrikaanse bakkiekopers het hoë verwagtinge. Die goedkoop-is-duurkoop-sêding gedy en om te bewys dat GWM ernstig is oor ’n groter aandeel van die plaaslike bakkiemark, is daar nou die P-reeks.

Hierdie bakkies is ontwikkel op GWM se P71-leerraamonderstel, wat bekend sal wees aan Haval H9 4x4-stasiewa-eienaars. Ingenieurs by GWM het die nodige versterkings aangebring om te verseker die GWM P-bakkiereeks kán sleep en vrag dra.

GMW se Suid-Afrikaanse P-bakkiereeks bestaan uit 16 keuses, met ’n beginprys van R339 900 vir die 4x2-enkelkajuit en R369 900 in dubbelkajuitbakvorm. Teen daardie prys kry jy 17-duim-sierwiele, kanttrappe, sluitweerremme, stabiliteitsbeheer en afstandsensors agter om ’n truratbotsing te voorkom.

Binne is daar veeldoelige beheerknoppies op die stuurwiel, elektriese vensters, twee USB-laaipunte en lugreëling. Daar is geen twyfel nie dat selfs die goedkoopste GWM P-reeks baie meer toerusting bied as enige soortgelyke Hilux of Ranger, teen ’n vergelykbare prys.

Al die bakkies in die GMW P-reeks word deur ’n 2-liter-turbodieselenjin aangedryf, wat 120 kW en 400 Nm lewer. Dié syfers steek glad nie sleg af by mededingers van Toyota of Ford nie, veral wat prys en kraglewering betref.

Ratkaste wissel tussen ’n sesganghandrat en agtspoed-outomaties, verskaf deur die Duitse vervaardiger ZF. Dit is dieselfde outomatiese ratkas wat VW in hul Amarokbakkies gebruik en word allerweë as die beste selfskakelstelsel ter wêreld beskou.

Die luukser dubbelkajuitbakkies kos van R434 900 tot R544 900 en GWM is nie skaam met die toerustingvlakke nie.

Op die LS-gradering is albei voorste sitplekke elektries verstelbaar. Die inligtingstelsel is ’n tikskerm van 9 duim breed, met aanraakherlaaiing vir jou slimfoon in ’n bêreplek tussen die sitplekke. Veiligheidseienskappe is uitstekend, met aanpasbare ritbeheer en outomatiese noodremaksie.

Daar is ook ’n 360-grade-kameraoogpunt om die bakkie, wat noukeurige veldry in rotsagtige toestande baie vergemaklik. GWM het verseker dat sy 4x4-dubbelkajuitbakkie in die P-reeks skaflike veldryvermoë het. Die grondvryhoogte is 232 mm en vastrapvermoë word versterk deur ’n laestrekratkas, met sluitbare agterewenaar. Borg-Warner verskaf die kloubeheerstelsels.