Vir ’n klomp Suid-Afrikaners is die wonderbaarlike DS of DS Pallas die enigste Citroën waarmee hulle ooit kennis gemaak het. Waarskynlik lank gelede, want die DS se vervaardiging is al in 1975 stopgesit. Toe sanksies teen Suid-Afrika in die 1990’s opgehef is, het Citroën teruggekeer, maar kon nie die pyp rook nie en het hom in 2016 stil-stil onttrek. Tot vanjaar – sy honderdste bestaansjaar.

Nou is hy terug, en soos die kuierplekke in Bloemfontein destyds elke vyf jaar gesê het: “Onder nuwe bestuur.” Die Fransman wat grootliks vir Renault se sukses in Suid-Afrika verantwoordelik is, Xavier Gobille, is onlangs as Peugeot-Citroën Suid-Afrika se baas aangewys. Buiten Gobille se kundigheid baat die plaaslike verspreider ook by ’n puik produkreeks, beter as enigiets wat Citroën of Peugeot die afgelope 30 jaar hier verkoop het.

Een van hulle is die Citroën C5 Aircross. Die klas waarin hy meeding, word oorheers deur die VW Tiguan, Toyota RAV4 en Hyundai Tucson. Dit maak sake moeilik vir Citroën, want eersgenoemde drie is gedugte teenstanders van vervaardigers met diep wortels in Suid-Afrika. Het die Fransman ’n kat se kans – of dalk ’n troefkaart?

Weer ’n waterbed op wiele. Met sy hidrouliese vering was die ou DS se rit ongeëwenaar en het voortgebou op Citroën se reputasie hiervoor, wat vroeër in die 20ste eeu gevestig is. Die nuwe C5 Aircross laat iets daarvan herleef, want hy’t gevorderde dempers waarvoor Citroën glo 20 patente moes registreer. Hiermee troef hy sy teenstanders met besonder soepel padgedrag.

Terloops, dié dempers kos net onder R3 000 elk. Die C5 Aircross deel ’n magdom onderdele met die Peugeot 3008 en Opel Grandland X, maar die C5 is ’n raps groter en dis veral duidelik aan die bagasiebak.

Die Citroën s’n is ’n tamaai 520 liter en met die agtersitplekke vooroor gekantel, sal jou fiets inpas, met die voorwiel aan. Die breë bank agter die bestuurder is eintlik drie afsonderlike sitplekke, wat onafhanklik vorentoe en agtertoe kan skuif, en sowaar elkeen plek het vir ’n kinderstoeltjie. Die Feel-weergawe het geweefde materiaalbekleedsel vir die sitplekke (die Shine-variant het leer), ses lugsakke, parkeersensors agter, elektroniese stabiliteitsbeheer, Bluetooth, Apple Car Play en Android Auto. Daar’s ook ’n volgrootte noodwiel.

Die kajuit is stewig, sjiek en smaakvol en dit voel of ’n mens in ’n nuwe Audi sit, nie in ’n middelklas-kar nie. Op die pad. Benewens die soepel, luukse rit is wind-, pad- en enjingeraas so te sê afwesig en die super- gerieflike sitplekke laat ’n lang rit kort voel. Die C5 se petrolenjin is ’n 1,6 liter met turboaanjaer en ontwikkel 121 kW en 240 Nm, maar voel nie altyd opgewasse teen sy massa van 1,5 ton nie – en dit sonder passasiers of bagasie. Vir turbodieselkrag in dieselfde soort kar kan jy die Peugeot 3008 of 5008 oorweeg, asook die Hyundai Tucson en die Mazda CX-5. Die Toyota RAV4 is ook slegs met petrolenjins te kry.

Die C5 Aircross se pens is ’n nuttige 230 mm bo die teer, maar hy’s voorwielaangedrewe. Moet dus nie hardebaard-4x4-roetes hiermee aandurf nie.

Gemoedsrus is altyd in die mode. Citroën weet daar’s plaaslike verbruikers wat glo hedendaagse Citroëns is onbetroubaar en ook van mening is dat onderdele onverkrygbaar of peperduur is. In ’n poging om dit die hoof te bied, gee Citroën klante ’n waarborg en diensplan wat vyf jaar of 100 000 km geld, en sê hy sal vir jou ’n kar leen as joune versien of onder waarborg herstel word.

Die welgeskape C5 Aircross is ruim, deftig en verfyn, maar dis moeilik om te voorspel hoeveel kopers hul geld op so ’n buiteperd sal wed. As jy stroomop genoeg is om een te koop, sal jy een van die beste rygoed in dié klas geniet. 

PRYS: R469 900