Toyota se ganse besending van 60 Land Cruiser Namib-dubbelkajuitbakkies is ná hul bekendstelling laat verlede jaar blitsig uitverkoop. Met die vraag wat duidelik onderskat is en die aanbod oorskry, het Toyota besluit om ’n enkelkajuit by die reeks in te sluit.

Die toerustingvlakke vir die 2020 Namib-bakkiereeks is onveranderd, wat beteken dat jy al daardie begeerlike viertrekbybehore as standaard kry. Die Land Cruiser Namb is in wit of sandkleur beskikbaar. Dit is maklik herkenbaar vanweë die sierrooster wat nie die gewone kenteken dra nie, maar Toyota se handelsnaam in letters.

’n Staalvoorbuffer dien as monteerplek vir die geharde bosbreker. Van agter beskou, is daar ’n buisraamtrap na die laaibak en ’n sleephak. Alle Land Cruiser Namib-bakkies het ’n rubberbeskermlaag in die laaibak.

Die sitplekbedekking is duursaam. Kos en drinkgoed word koud gehou in ’n koelkassie wat met die lugreëling verkoel word. ’n LED-lig in die dak help jou om saans kaart te lees as jy iewers in die middel van nêrens is.

Die voorkoms en binneruimverfraaiings verander niks aan die feit dat die rede vir die bestaan van Toyota Suid-Afrika se Land Cruiser Namib-bakkies is om te toer waar geen ander mededinger dit sal waag nie. Met 265/75/R16 Cooper Discoverer S/T Maxx-bande, wat oorgenoeg klou-oppervlak bied, is daar min hindernisse wat die Namib-enkelkajuit sal keer.

Drie ewenaarslotte en ’n taaier veringstelsel, wat ook die grondvryhoogte verbeter, verseker dat ’n Land Cruiser Namib-enkelkajuit altyd die weg sal baan, nie slegs volg nie.

Krag kom van Toyota se betroubare 4,5 liter-V8-turbodiesel, wat 151 kW en 430 Nm deur ’n vyfgangratkas na die dryfstelsel stuur. Toyota skat jy sal 11,2 liter/100 km verbruik onder gewone grondpadtoertoestande.

Teen R842 200 is die jongste Toyota Land Cruiser Namib Suid-Afrika se duurste enkelkajuitbakkie. Dit is R120 000 meer as ’n gewone Land Cruiser 4.5 V8. Die Nissan Patrol is die enigste geharde enkelkajuitmededinger vir Land Cruiser. Die Patrol is R200 000 goedkoper as ’n Namib.

As die algemene duursaamheid van ’n Land Cruiser in berekening gebring word, is dit altyd ’n waardevolle langtermynbelegging omdat hierdie bakkies se looptyd eerder in dekades as jare getel word.

Toyota gaan die vervaardiging van die 2020-model Land Cruiser Namib-bakkies beperk tot slegs 120 eenhede, met ’n gelyke verdeling van 60 dubbel- en 60 enkelkajuite.