Al was die algehele mark 0,9% swakker in September vanjaar teenoor verlede September, het Toyota nietemin 3 410 Hilux-bakkies aan nuwe eienaars gelewer. 

Ford kon in teenstelling daarmee slegs 2 321 Rangers verkoop, amper ’n derde minder as die Hilux. Ford se bemarkingsmense sal bly wees om weer hul naasbeste plek op die bakkieranglys te beklee nadat Nissan se klein NP200-bakkie die Ranger onlangs tot die derde plek laat afskuif het.

Die verskil tussen die Ranger en die NP200 bly gering, met Nissan wat in September 2 250 van sy driekwarttonbakkies aan plaaslike handelaars gelewer het. 

Die res van die bakkiemark het ’n groot vermindering in verkoopsyfers aangeteken. Isuzu sit in vierde plek met 1 204 KB-bakkies en daar is nog ’n Nissan vyfde, die NP300, met 605 eenhede gelewer in September.

Sesde op die lys is Mahindra se Pik-Up, met verkope van 262, gevolg deur die legendariese Land Cruiser 70-bakkie met 247.

GWM het in die agtste plek 170 van sy Steed-bakkies van die hand gesit, kort voor VW se Amarok met 163 verkope. Navara het die land se toptien-bakkielys afgerond met 80 eenhede. 

Nissan is die enigste handelsnaam met drie verskillende bakkies in die toptien, terwyl Toyotabakkies twee plekke beklee.

Die enigste modelreekse in die toptien wat slegs dubbelkajuitbakkies verkoop, is VW se Amarok en die Nissan Navara. Van hierdie twee is die Duitsers ver voor met Amarok wat verlede maand dubbel soveel as die Navara verkoop het. Ongetwyfeld is die Amarok se V6-turbodieselenjin ’n groot aantrekkingskrag.

Sekerlik die beste bakkie wat nie onder die toptien is nie, is Mitsubishi se netjiese nuwe Triton. Ondanks ’n byderwetse ontwerp, slim tegniese kenmerke en ’n uitstekende vierwieltrekstelsel kon Mitsubishi in September slegs 25 nuwe eienaars vind vir sy Triton.

Met slegs drie maande van die jaar oor het Hilux tot dusver 11 271 meer eenhede as sy naaste mededinger, Ford se Ranger, verkoop. Daar is dus geen tekens dat enige mededinger in 2019 Toyota se Hilux sal kan troef as die land se gewildste bakkie nie.