Die Britse chemiese maatskappy Ineos het nou besonderhede van die ontwerp van sy plaasvervanger vir die Defender, die Grenadier, bekend gemaak.

Vir Ineos is die bemarkingsbeginsel doodeenvoudig: Bou die voertuig wat Land Rover-aanhangers begeer, maar Land Rover nie self meer kan nie. Die resultaat is Grenadier, wat al die roemryke eienskappe van ’n vorige geslag Defender verbeter met gevorderde enjins en veiligheidseienskappe.

Enige Defender-eienaar sal dadelik ooreenkomste tussen die Grenadier se buite-skarnierdeure, skulpvormige enjinkap en ronde daklynverhoudings herken. Volgens Ineos wou sy ontwerpspan met opset soveel van die oorspronklike Defender se ontwerpkenmerke behou en na die Grenadier oorgedra.

Buiten die treffende ontwerp sal geharde 4x4-kenners beïndruk wees met die ingenierswese van Grenadier se onderstel. Waar die meeste veldryvoertuie deesdae ’n romp en onderstel in een smee, is die Grenadier gebou soos ’n ou Defender (of huidige Land Cruiser 70), met die bakwerk gemonteer op ’n staalleerraam-onderstel.

Veldryers wat verkies dat hul voertuie se onderstel kan buig en vorm om oor hindernisse te klouter, sonder om onnodig ’n wiel te lig, sal ’n Grenadier bo die nuwe Defender verkies.

Ineos se Grenadier gaan gewild wees vir die feit dat daar kronkelvere by al vier wiele is, asook vaste asse voor en agter. Dit is slegs die Land Cruiser 70 wat nog met vaste asse voor en agter gebou word, maar dié Toyota-veldwa het nie die voordeel van kronkelvere nie.

BMW verskaf die Grenadier se turboaangedrewe 3 liter-sessilinderkragbronne, in diesel of petrol. Daar sal verseker geen gebrek aan krag wees met hierdie BMW-enjins nie, en ’n outomatiese agtgang-ZF-ratkas verdeel die aandrywing na al vier wiele. Met ’n stel laetrekratte sal Grenadier voorwaar enige hindernis kan baasraak, maar ook oorgenoeg ratverhoudings hê vir gemaklike toersnelheid op die snelweg.

Ineos het nie die Grenadier afgeskeep ten opsigte van veiligheidstoerusting nie. Die voertuig sal binneruimlugsakke hê, as beskerming in die geval van ’n botsing –  iets wat die vorige geslag Defender nooit gehad het nie.

Pryse vir die Grenadier is nog nie bevestig nie, maar die stasiewa en ’n dubbelkajuitbakkie sal vanaf 2021 gebou word. En, ja, die Grenadier kom in 2022 Suid-Afrika toe.