Die ontwerp van Isuzu se D-Max-bakkie is binne en buite verskerp vir vyfdeurstasiewa. Vir diegene wat ’n gesinsvoertuig begeer wat grondpaaie kan baasraak, maar nie ’n Toyota Fortuner soos Jan Alleman wil bestuur nie, is die MU-X ’n goeie keuse.

Isuzu-kenners sal dadelik ’n herontwerpte sierrooster uitken, maar daar is ook ’n voorbuffer wat nou verdeel is in ’n kleurvaste bokant en swart onderkant, om klipskade op grondpad te verminder.

Agter het die MU-X nou ’n swart onderkant aan die buffer en nuwe agterligte. Die wielgrootte bly onveranderd teen 18 duim, maar die ontwerp het nou ses speke wat elk in twee verdeel.

Die MU-X se binneruim is uitgebou met klavierswart afwerking vir die deurpanele, ratskakelaar en die 8 duim-tikskerminligtingstelsel. Om te voorkom dat hierdie blinkswart ontwerp MU-X se binneruim oorheers, is daar silwer satellietbeheerknoppies en skakelaars op die stuurwiel.

Klavierswart is dalk ’n raakvat keuse vir Europa en Amerika, waar bestuursroetes minder stowwerig is, maar dit gaan moeite kos om in plaaslike toestande die MU-X se binneruim sonder vingermerke en ’n stoflaag te hou. Hou maar ’n lappie in die deurkassie as jy erg is oor stofmerke.

Isuzu het nie gemors met hierdie veldwa se beproefde 3 liter-turbodieselenjin nie. Kraglewering bly onveranderd teen 130 kW en 380 Nm. Ongelukkig is plaaslike MU-X-enjins steeds nie op die Australiese toerustingvlak nie, waar Isuzu se 3 liter-kragbron 430 Nm wringkrag lewer vir sterker sleep- en verbysteekvermoë.

Voornemende eienaars het ’n keuse van 4x2- of 4x4-dryfstelsels, met ratwisseling deur middel van Isuzu se outomatiese sesgangratkas. Geharde veldryers wat meer kloukrag soek, kan Eaton se ewenaarslot bestel, wat ’n R11 500 opgradering is.

Die vernaamste bestuursverbetering wat Isuzu op hierdie nuwe MU-X toegepas het, is iets wat jy hopelik nooit sal hoef te gebruik nie. Navorsing het aangedui dat voortdurende versnelleraksie ’n nadelige invloed kan hê tydens enige noodremaksie, al staan jy met alle mag op die rempedaal.

Isuzu se ingenieurs het ’n slim versnellerteëhoustelsel vir die MU-X ontwerp. Bestuurders wat onder druk albei pedale trap tydens ’n noodgeval, word nou bygestaan deur die MU-X se voertuigrekenaar wat versnellerinsette vertraag tydens ’n noodreaksie.

Isuzu se nuwe MU-X sal jou R630 400 uit die sak jaag vir ’n 4x2 en R698 200 vir die 4x4.