Al was die ekonomie verlede jaar onder groot druk, met swak groeisyfers en ’n wisselkoers wat wipplank gery het, was daar geen keer aan bakkieverkope nie.

Met voertuigverkope wat van 557 703 in 2017 tot 552 190 in 2018 gekwyn het, was dit nie ’n wenjaer vir vervaardigers nie, maar betroubare handelsname het steeds goed gevaar.

Bykans almal het gesukkel, maar as noukeurig na die data vir 2018 gekyk word, is dit duidelik dat Suid-Afrikaners steeds bakkies bo enige ander voertuie verkies, en veral twee handelsname bo alle ander. 

Die gewildste voertuig vir 2018 was voorspelbaar. Met 40 018 eenhede het die Hilux weer eens die kroon gespan vir Toyota. Ford se Ranger was die naasbeste verkoper, maar hy het amper ’n derde minder bakkies verkoop as die Hilux, met die totaal op 30 141. 

Vanwaar se Toyota se oorheersing in 2018? Om 32% beter verkope as jou naaste mededinger te behaal is ’n reuse-oorwinning. Dit was die vernuwing van die Hilux, wat in Julie begin het en teen Augustus die hele reeks omvat het, wat Toyota die nodige momentum gegee het om Ford teen die einde van die jaar te troef.

Toyota se oorheersing was nie slegs beperk tot die bakkiemark nie. Met die Fortuner het die Japannese handelsnaam weer bewys dat hierdie stasiewa-weergawe van die Hilux ’n onvergelykbare gunsteling is onder stedelinge en boere wat ’n gesinsvoertuig met veldryvermoë begeer. 

Toyota het 13 099 Fortuner-eenhede aan nuwe eienaars besorg in 2018 en in die mark vir leerraamsportnutsvoertuie is daar geen mededinger wat kon bybly nie. Toyota se invloed met die Fortuner is nog sterker as dié van Hilux in die bakkiemark. 

Fortuner se naaste teenstander is – voorspelbaar – Ford se Everest, wat ’n stasiewa-ontwikkeling van die Ranger-bakkie is. Dit is ongetwyfeld ’n knap voertuig, maar Ford kon slegs 4 793 Everest-stasiewaens verkoop in 2018, wat beteken dat Toyota se markaandeel 173% groter was. 

Buiten die Hilux en Fortuner se oorheersing was daar ook geen keer aan die vraag na Toyota se kroonjuweel-4x4-voertuig nie. Die Land Cruiser 200-reeks is alombekend as die gewildste luukse veldvoertuig onder plaaslike kopers. Ten spyte van ’n prys van net minder as R1,5 miljoen het Toyota 1 303 Land Cruisers verkoop.

Vir 2019 sal Toyota se ankerreg op die plaaslike voertuig mark met die Hilux geensins verander nie, al behoort Ford die verskil tussen die eerste en die naasbeste verkoopplek te vernou. ’n Opgeknapte Ranger sal binnekort aan Suid-Afrikaanse kopers beskikbaar gemaak word, wat die belangstelling in en die vraag na Ford se bakkie sal versterk.

Wat Toyota in 2018 in die bakkie- en sportnutsvoertuigmark vermag het, het Volkswagen met passasiersvoertuie geëwenaar. Die Duitse vervaardiger was loshande die gewildste keuse vir Suid-Afrikaners wat nie ’n bakkie of veldwa wou koop nie, met die Polo-luikrug wat op 29 789 eenhede, kort op die Ranger se hakke, 2018 geëindig het as die derde gewildste plaaslike voertuig.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.