Die Amerikaanse maatskappy, met die voormalige Pretorianer Elon Musk aan die stuur van sake, hoop om nou nog groter opgang te maak . . . met ’n batteryaangedrewe bakkie.

Musk belowe al geruime tyd dat hy ’n bakkie wil bou wat getroue dubbelkajuit-eienaars sal beloon met iets heel anders, en beter. Tesla se Cybertruck is die oplossing en dit lyk glad nie soos ’n gewone bakkie nie. Hierdie dubbelkajuit se bakvorm en verhoudings het meer gemeen met ’n pantservoertuig as enige Hilux.

Met skerp hoeke en ’n bak van vlekvrye staal lyk die Cybertruck soos iets uit ’n 1980’s wetenskapsfiksiefliek. Musk verduidelik die hoekige voorkoms is ’n gevolg van sy bakkie se unieke windsleur-ontwerp, maar die waarheid is dalk bietjie meer beskeie.

Binne Elon Musk se sakeryk is die ruimteagentskap SpaceX, en dit is hier waar die idee vir Tesla se Cybertruck se bakvorm vandaan kom.

Deur skaalekonomie in te span, het Tesla eenvoudig dieselfde gehalte vlekvrye staal ingespan as wat SpaceX reeds vir sy ruimtetuie gebruik. Die voordeel is geharde 301 vlekvrye staal wat koeëlbestand is. Die nadeel is egter ’n metaal wat moeilik buig en vorm.

Bakkies wat meer vloeibare lyne het, gebruik ’n baie dun staalbakwerk van 1 mm. Daarteenoor is die Cybertruck se bakpanele amper 3 mm dik. Geen huidige bedryfsmasjinerie kan sulke dik vlekvrye staal in elegante vorms buig nie. 

Al wil Tesla nie die batteryvermoë en kraguitset van die Cybertruck verklap nie, moet dit ’n reusagtige sterk elektriese kragbron hê. Die bakwerk van vlekvrye staal verseker dat hierdie bakkie heelwat swaarder as enige ander dubbelkajuit sal wees, tog is die beloofde verrigtingsyfers en werkverrigting amper ongelooflik.

Tesla roem met die Cybertruck op ’n blitsige versnelling van 0-100 km/h binne slegs 2,9 sekondes, 1,5 ton se dravermoë in die laaibak en ’n allemintige 6 ton-sleepgradering. Reikafstand word bereken op 800 km voor die Cybertruck se battery herlaai hoef te word.

Van die slim kenmerke wat Tesla se ingenieurs met die Cybertruck bygewerk het, is lugvering, wat 400 mm grondvrye hoogte gee vir uitstekende veldryvermoë. Die binneruim het sitplek vir ses passasiers. 

Tesla verwag om teen die einde van 2021 die eerste Cybertruck-bakkies aan kopers te lewer. Teen huidige wisselkoerse sal hierdie batterybakkie van R580 000 vir ’n enkelmotorweergawe tot R1 miljoen vir ’n Cybertruck met drie elektriese motors kos. 

Daar bestaan egter ’n kwelvraag oor die bakkie se bakwerk van vlekvrye staal. Dit sal ongelooflik duursaam en bestand teen stampe wees, maar hierdie opwindende Tesla-dubbelkajuit gaan dalk eenvoudig te swaar wees vir produksie in sy huidige vorm.