As jy die bure wil beïndruk en koppe wil laat draai, is ’n Bentley Bentayga beslis die voertuig vir jou.

Bentley het ’n sterk verbintenis met Suid-Afrika. Die diamant-en-goudbaron Barney Barnato se seun, Woolf, het die Britse motorvervaardiger in die 1930’s vir ’n kort tydperk besit. Hy sou seker nooit kon dink dat Bentley ooit ’n voertuig kon bou wat tuis sou wees op Suid-Afrika se plaaspaaie nie.

Luukse 4x4-stasiewaens was nog altyd ’n eiesoortige eienskap van die Britse voertuigbedryf, vandat die oorspronklike Range Rover in 1970 onthul is. Maar ’n Bentley-veldvoertuig? Die beeld wat vereenselwig word met Bentley se vleuelkenteken is nader aan dié van die Le Mans-uithouren (waar Woolf meegeding het) en die weelderige voertuie van adellikes en sportsterre.

Soos wêreldwelvaart die afgelope tyd ’n verandering ondergaan het, is daar nou inwoners met die inkomste en begeerte vir ’n opregte Britse weeldemotor op plekke waar ’n gewone Bentley glad nie sal kan ry nie. 

Die antwoord hierop is die Bentayga, wat ’n reeks eerstes vir die handelsnaam inhou. Die voertuig is nie net Bentley se eerste veldryer nie, maar ook die handelsnaam se eerste voertuig met ’n dieselenjin en ’n sleephak. Bentley se plaaslike verspreiding en naverkopediens is nou ook toevertrou aan Toby Venter, alombekend as Suid-Afrika se Mnr. Porsche.

Venter glo dat boere (en ander kopers) die sin sal insien van ’n uiters luukse veldvoertuig wat sonder swarigheid die grond en bergpaaie tussen die stad en wild- of wynplaas kan aandurf. 

Die Bentayga se voorkoms is eg Bentley, met die kenmerkende sierrooster en ronde ligte. Binne is dit ’n versameling van gehalte hout en leerwerk, alles met die hand gesny, gestik en aanmekaar gesit. Die Bentayga se lys tegniese kenmerke is indrukwekkend. Al is dit ’n besonder swaar voertuig, wat die skaal op 2,5 ton trek, is daar ’n stewige dieselenjin en gevorderde lugvering wat saamwerk om ’n ongeëwenaarde bestuurservaring vir ’n sportnutsvoertuig te bied. 

Die kragbron is ’n 4 liter-V8-diesel met twee hoofturboaanjaers en ’n derde wat elektries aangedryf word en verseker dat die groter turbo’s altyd voldoende lugdruk het om onmiddellik verrigting te bied. 

Kraglewering is 320 kW en wringkrag ’n ongelooflike 900 N.m. Vierwieltrek en ’n besonder flink agtgangratkas verseker versnelling van 0-100 km/h in slegs 4,8 sekondes en die Bentayga V8-diesel is in staat tot ’n topsnelheid van 270 km/h. 

Tog is dit as ’n grondpad-weeldewa dat die Bentayga die meeste beïndruk. Bentley se hoofingenieur is Brian Gush, ’n boorling van Port Elizabeth. Sy span het dit reggekry om ’n voertuig te bou met weergalose ritgehalte en binneruim-klankdigtheid. Op teer toer die Bentayga geruisloos voort en met ’n grondvrye hoogte van 245 mm en besonder sterk viewieltrek-klouvermoë sal jou moed begin kwyn voor die Bentayga uit veldrytalent hardloop. 

Teen R2 950 000 is Bentayga, nodeloos om te sê, dúúr vir ’n sportnutsvoertuig, maar ook betreklik goedkoop vir ’n Bentley.

Enige besinning oor die Bentayga se prys moet ook daardie sleephak en 3,5 ton trekvermoë bereken, wat beteken jy kan die perdekar gimkana of uithourit toe sleep, en by die skouterrein indraai met ’n voertuig wat nie getroef sal word vir teenwoordigheid of bestuurservaring nie.