Daar is slegs een bakkie wat op die plaaslike mark die Toyota Hilux die stryd kan aansê, en dit is Ford se Ranger. Dié twee bakkies oorheers die Suid-Afrikaanse plaaslike mark met gesamentlike verkope van duisende meer per maand as hul naaste mededingers.

Met Hilux wat vandeesmaand 'n voorkomsvernuwing ondergaan het, weet Ford dat die Ranger ook binnekort 'n nuwe baadjie sal moet kry om te verseker dat die Suid-Afrikaanse bakkiestryd 'n gelyke een is. 

Gevolglik sal 'n verbeterde Ranger volgende jaar in Suid-Afrika bemark word, danksy 'n reusebelegging van R3 miljard in Ford se plaaslike enjin- en bakwerkaanlegte in Port Elisabeth en Pretoria. 

Die Ranger, wat op die klassieke Amerikaanse F150-bakkie geskoei is, kry 'n nuwe sierrooster en 'n reghoekiger voorste buffer. Vir die meeste Ford-aanhangers is die verrassing egter wat agter die sierrooster skuil. 

Bakkie-eienaars sluk maar swaar aan die idee van enjinverkleining, wat nou algemeen geword het in nuwe voertuie vanweë strenger uitlaatgasreëls. Waar die Ranger nog altyd die grootste dieselenjin van al sy mededingers gehad het, 'n 3,2-liter-vyfsilinder, sal die nuwe Ranger met 'n baie kleiner dieselenjin beskikbaar wees. 

Vir sommige Ranger-eienaars sal die idee van 'n Ranger-dubbelkajuit met 'n 2 liter-turbodiesel byna rampspoedig klink, maar die nuwe enjin het beter werkverrigting as die 3,2 liter. Met drywing van 157 kW en wringkrag van 500 N.m sal die nuwe Ranger vir niks terugstaan nie. Dié indrukwekkende kragsyfers word aangewend deur 'n outomatiese tienspoedratkas wat sorg dat jy altyd in die doeltreffendste rat is, al sleep jy 'n waentjie voer of toer op die snelweg op pad see toe. 

Ford se 2 liter-diesel het twee turbo-aanjaers en is oorspronklik ontwikkel vir Australië se Ranger Raptor-projek. Dit kom as 'n groot verrassing dat daar besluit is om dié kragbron ook vir ander bakkies in die reeks beskikbaar te stel. Die Ranger Raptor is 'n verkleinde weergawe van die Amerikaanse F150-veldrenbakkie, en baie Ford-aanhangers het verwag dat die nuwe 2 liter-enjin eie sou bly daaraan en nie vir ander Ranger-modelle gebruik sal word nie. 

Met Volkswagen en Mercedes wat groot V6-kragbronne op die mark stoot, het Ford gereken dat die Raptor-enjin beter sou werk as slegs die Ranger Raptor, wat 'n nismodel en nie juis 'n werksbakkie is nie. Benewens die 2 liter-dubbelturbo behoort Ford se bestaande enjins na die 2019-Ranger oorgedra te word.

Daar is verder 'n reeks knap byvoegings om enige voornemende Ranger-eienaar se bakkie te verbeter. Danksy 'n herontwerpte wigmeganisme sal die nuwe Ranger se laaibak met 70% minder moeite toemaak, iets wat beslis aftrek sal kry by diegene wat gereeld die laaibak moet oopslaan om goedere in of uit te pak. 

Die Ranger se veringstelsel het ook aandag geniet met 'n verbetering in geometrie om ritgehalte te verbeter sonder dat dravermoë beïnvloed word. Ford se jongste, slim selfbestuurtegnologie maak ook 'n buiging met ’n outonome remfunksie. Die Ranger sal 'n voetganger of voertuig wat skielik in die pad stilstaan, kan herken en sonder die bestuurder se insette ankers aanslaan. 

Dié opgraderings aan die Ford Ranger sal volgende jaar plaaslik beskikbaar gestel word.