In die laat 1990’s en vroeë 2000’s het Mitsubishi ’n gesonde wins behaal met die Pajero. Die sportnutsvoertuigmark word egter ál sterker beïnvloed deur die sterker Duitse en Koreaanse voertuie, met luuksheid en bestuursgemak as giere, en dus het die Pajero se gewildheid begin kwyn.

Verlede jaar het Mitsubishi ’n moontlike opvolger vir die Pajero oorweeg, maar hy gaan nie hiermee voort nie. Die Sakahogi-bedryfsbate in Japan, waar die Pajero gebou word, is nie deel van Mitsubishi se toekomsplanne nie en sal volgende jaar sluit. Gevolglik sal die V80-reeks die Pajero se laaste wees.

Om sedert 2006 in die mark te verhandel sonder ’n noemenswaardige herontwerp spreek boekdele van die huidige Pajero se ingenieurswese. Vir veldryers wat ’n beproefde turbodieselenjin en dryfstelsel sonder elektroniese ingewikkeldheid soek, was die Pajero nog altyd die antwoord.

Slim vastrapstelsels maak dit makliker vir onervare bestuurders om tegniese hindernisse te verower, maar wanneer die elektronika besluit om nukkerig te raak, kan jy in die middel van nêrens sit – met ’n groot probleem. Met 12 Dakar-veldrenoorwinnings op die Pajero se kerfstok is daar nie veel wat Mitsubishi se ingenieurs geleer kan word van betroubaarheid in strawwe omstandighede nie.

Daar is min meganiese vierwieltrek-stelsels wat kan verbeter op Mitsubishi se Super Select-aanbieding. Buiten lae- en hoëstrekratte het die Pajero ook ’n derde skakelingkeuse, wat die snelheid van ’n hoëstrekrat toelaat, met die voordeel van ’n middelewenaar wat sluit.

As jy gemaklik in groot duine wil ry, of met groter vertroue op ’n modderige of baie rowwe grondpad wil toer, is die voordeel van ’n geslote middelewenaar teen hoër snelhede nie te versmaai nie.

Waar Pajero ook steeds aansien geniet, is die driedeurweergawe. Jeep se driedeur-Wrangler is ’n heerlike veldryspeelding, maar kan as ’n pendel- en snelwegvoertuig moeisaam wees om te bestuur. Daarteenoor het die Pajero met sy kort as sterk veldryvermoë en bied dit ’n baie meer afgeronde algemene bestuurservaring.

Driedeur- en vyfdeur-Pajero’s word nog deur Mitsubishi Suid-Afrika ingevoer en sal tot op die laaste beskikbaar wees. Vir diegene wat ná die Pajero se aftrede volgende jaar ’n Mitsubishi-veldtoervoertuig met leerraamonderstel begeer, is daar steeds die ietwat kleiner, maar baie knap Pajero Sport.