Isuzu Suid-Afrika se nuut aangestelde uitvoerende hoof, mnr. Billy Tom, is vol vertroue dat Isuzu sy man kan staan in ’n vinnig veranderende mark om die nadelige invloed van die Covid-19-pandemie te oorleef.

Isuzu se vlagskip-bakkie, die D-Max, se verkoopsyfer het ’n hoogtepunt in Augustus bereik wat sy markaandeel op 17,3% vanjaar tot Augustus te staan bring. Benewens die hoogste verkoopsyfer van die D-Max in Augustus die afgelope 14 jaar was dié voertuig ook die naasbeste verkoper in die bakkiemark vir Mei, Junie en Augustus. In die mark vir vragmotors beloop Isuzu se aandeel vir mediumswaar en swaar kommersiële voertuie, paneelwaens en busse uitgesluit, tot dusver vanjaar 12,7%.

Volgens Tom is daar sterk sprake dat die moedermaatskappy in Japan R1,2 miljard gaan belê in die ontwikkeling van Isuzu se nuwe geslag bakkies vir die Suider-Afrikaanse mark. “Ons onderhandel ook met Isuzu Japan vir die plaaslike vervaardiging van die volgende geslag vragmotors van die groep.”