Daar is geen voertuig, wêreldwyd, wat kan kers vashou by Ford se F-Reeks nie.

Jaar ná jaar is die F-150 die wêreld se gewildste voertuig en Ford het nou ’n weergawe bekend gestel wat sonder petrol of diesel loop.

Met ’n vroulike hoofingenieur, Linda Zhang, aan die stuur van sake, is Ford se F-150 Lightning indrukwekkend. Die reusevraag na F-150-bakkies beteken dat Ford se elektriese weergawe ’n baanbreker kan wees.

Anders as ’n gewone voertuig vir pendel in die stad of gesinsvoertuig is die eise baie groter en strawwer vir ’n batteryaangedrewe bakkie. Sleep- en dravermoë plaas groter druk op die elektriese dryfstel en batterye se uithouvermoë.

Ford is nog beskeie oor die energievermoë van die F-150 se batterystelsel, maar die krag- en werkverrigtingsyfers is indrukwekkend. Daar is twee elektriese motors op elke F-150 Lightning, wat elk ’n as aandryf en sodoende vierwieltrek bied.

Die rustiger F-150 Lightning bied 318 kW en 1 051 Nm wringkrag, wat amper lagwekkend is teenoor die sterkste dieselbakkies. Volgens Ford behoort hierdie bakkie 0-100 km/h in onder vyf sekondes kaf te draf, met ’n bruikbare reikafstand van 370 km.

Mense wat bietjie meer krag in hul battery-aangedrewe bakkie soek, kan ’n 420 kW-weergawe kies, met ’n reikafstand van 483 km.

Die deurslaggewende vraag vir die meeste geharde bakkie-eienaars is sleep- en dravermoë. Jy kan 907 kg in die laaibak dra, wat bietjie minder is as ’n gewone dubbelkajuitdieselbakkie, maar die sleepvermoë van 4,5 ton is ontsagwekkend.

Sonder ’n enjin bo die vooras is daar 400 liter se veilige en weerbestande laairuimte in die F-150 Lightning se “voorste” kattebak.

Met al daardie elektriese krag aan boord kan die F-150 Lightning ook gereedskap aandryf wat gewoonlik ’n klein kragopwekker benodig. Die bakkie het kragpunte wat 9,6 kW kan uitskop, sterk genoeg om pompe, beligting of allerlei ander kragtoerusting aan die gang te hou as jy iewers afgeleë in die veld of berg werksaam moet wees.

Ford het ook onafhanklike agtervering aangebring op hierdie nuwe F-150 Lightning, wat baie beter hantering teen hoë snelhede behoort te lewer, al perk dit bietjie die laaibak se dravermoë in.

Daar is geen dringende planne vir ’n F-150 Lightning met ’n regterhandstuur nie, maar dit is ’n sterk aanduiding van waartoe Ford in staat is ten opsigte van batteryaangedrewe bakkies.