Ford het in September 3 679 nuwe eenhede verkoop, die beste verkoopsyfer vir die maatskappy sedert Februarie vanjaar en die derde beste verkoopsyfer vir ’n plaaslike vervaardiger.

Volgens die nasionale vereniging vir voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) kon Ford in September spog met die hoogste uitvoersyfer van 6 995 eenhede na sy meer as honderd buitelandse markte. Dit verteenwoordig ’n toename van 11,3% teenoor Augustus.

“Ons totale verkope van 9 174 Ford Rangers in September plaaslik en in die buiteland is ons beste syfer vir die jaar,” s? mnr. Neale Hill, besturende direkteur van Ford Suider-Afrika.

Die Ranger-bakkie en die Everest-sportnutsvoertuig word by Ford se Silverton-aanleg in Pretoria aanmekaar gesit.

Volgens Hill is die Ranger Thunder die jongste toevoeging tot die produkreeks as ’n eksklusiewe weergawe van die gewilde Ranger Wildtrak.

Die aandrywing vir die Ranger and Everest word by Ford se Struandale-enjinaanleg in Port Elizabeth aanmekaar gesit. Die aanleg het onlangs sy vierde toekenning verower ter aansporing van die uitvoerbedryf. Benewens die verskaffing van enjins vir die Silverton-aanleg word volledige aandrywingstelsels na verskeie Ford-aanlegte oor die wêreld heen uitgevoer.